Soorte resepte:

Resep: Lekkerste slaai met lensies en eiervrug

Lekkerste slaai met lensies en eiervrug (Foto: Verskaf)

Ek noem hierdie gereg sommer die lekkerste slaai met lensies en eiervrug. Selfs mense wat nie eintlik opgewonde raak ook lensies of eiervrug nie, is altyd verras oor hoe baie hulle dié slaai geniet. Die oorspronklike resep kom uit my resepteboek Maak vyf wat ook by Maroela Media se e-winkel beskikbaar is.

Die eiervrug word in blokkies gesny en dan met knoffel en roosmaryn in ’n pan gesoteer. Daarna word die lensies in dieselfde pan met takkies roosmaryn geprut tot dit net gaar is. Die eiervrug en lensies kry dus albei kans om die roosmaryn- en knoffelgeure te absorbeer. Vir afronding word gemarineerde songedroogde tamaties, feta en ʼn handvol of twee basiliekruid- en roketblare bygesit. Die slaai is ewe gewild as bygereg met braaivleis of as ligte, vegetariese ete op ’n warm dag en natuurlik in ’n kosblik. Perfek vir daardie dae wat jy middagete ʼn ligte, maar vullende ete wil geniet as daar dalk vanaand nog ʼn geselligheid of feesmaal voorlê en jy nie te versadig wil wees om dit te geniet of te veel wil eet nie.

Daar is ook dié week ’n hele paar idees vir gesonde peuselhappies vir hierdie tyd van die jaar op my Kosblik-blog beskikbaar. Gaan loer gerus op my webwerf www.heleenmeyer.co.za onder Kosblik 101. Lekker kook!

Resep uit Maak vyf/ Make Five

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) Westfalia- knoffelgegeurde avokado-olie
  • 30 ml (2 e) Westfalia- gewone avokado-olie
  • 1 groot eiervrug, in blokkies gesny
  • 1 groot ui, gekap
  • 15 ml (1 e) gekapte vars roosmaryn
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap
  • sout en peper
  • 250 ml (1 k) rou bruin lensies, afgespoel
  • 2 ekstra takkies roosmaryn
  • 1 skyf feta, in blokkies gesny
  • 6 gemarineerde songedroogde tamaties, in repe geskeur
  • ’n handvol vars roket- en basiliekruidblare

Metode:

  1. Verhit die twee soorte olie oor matige hitte in ’n braaipan (gebruik ’n AMC 24 cm Chef’s-pan) en soteer eiervrug, ui en roosmaryn bietjie vir bietjie tot goudbruin. Voeg meer olie by indien nodig. Skep die eiervrugmengsel terug in die pan en roer die suurlemoensap by.
  2. Geur na smaak en sit die deksel op. Prut 5-10 minute of tot gaar. Skep uit en laat afkoel.
  3. Plaas die lensies met die roosmaryntakkies en ’n knippie sout in dieselfde pan. Giet 500 ml (2 k) water oor en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Stel die hitte laer en prut met die deksel op vir 30 minute of tot sag. Verwyder die roosmaryntakkies.
  4. Dreineer die lensies en spoel af met koue water om te keer dat dit verder gaar word.
  5. Meng die lensies met die eiervrug. Roer die res van die bestanddele by, geur na smaak en sit koud of teen kamertemperatuur voor.

Wenke

  1. As jy nie baie tyd het nie, kan die droë lensies met 2 x 410 g-blikke bruinlensies vervang word. Dreineer en voeg by die eiervrug met die res van die bestanddele in stap 5.
  2. Vervang die feta met bokmelkkaas of sit voor met jogurt en kruisementblare.
  3. Wanneer granate in seisoen is, vervang die songedroogde tamaties daarmee.

 

Kyk ook op ’n Maandagoggend net na 07:00 saam na #Kosblik op kykNet se kanaal 145. Teken in op die blogs op my webwerf om gereeld nuwe resepte en idees te ontvang of volg my op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.