Soorte resepte:

Hoe goed is jou braai-etiket?

Na afloop van ’n onlangse studie deur Pharma Dynamics het dit aan die lig gekom dat baie Suid-Afrikaners nie seker is oor wat die regte etiket is om te volg wanneer dit by braai kom nie.

In dié studie het hulle mense se menings gevra oor watter bykosse om te bring, hoe lank ʼn aanvaarbare tyd is om te wag vir jou kos, en wanneer die vuur aangesteek moet word. Jan Braai het sy raad op al dié vrae gegee.

Hier is die studie se bevindings en wat Jan Braai daarvan dink:

  • Altesaam 87% van mense is onseker oor watter kos om saam te neem na ʼn braai toe; oor of hulle slegs vleis, vleis en drinkgoed, of vleis, drinkgoed en slaai moet saamneem. Volgens Jan Braai hoef gaste slegs hul eie vleis en drinkgoed saam te neem. En dit is altyd goed om ʼn ligte versnapering, blomme of ʼn sjokolade saam te neem vir die mense wat jou onthaal.
  • Altesaam 52% van mense wat aan die studie deelgeneem het, dink daar is niks fout daarmee om vleis te deel nie, maar dat almal verkieslik hul eie vleis moet eet.
  • Altesaam 45% het gesê dit is aanvaarbaar om twee tot vier uur lank vir jou kos te wag by ʼn braai, maar Jan Braai verskil van dié mense. “Die enigste tyd wanneer dit aanvaarbaar is om kos te bedien meer as twee ure na aankoms, is wanneer almal saam ʼn sportwedstryd kyk wat van nasionale belang is as deel van die braai, en dít die rede vir die vertraging is. Andersins is een tot twee uur ideaal,” sê hy.
  • Altesaam 69% van mense steek die vuur aan nadat die gaste arriveer het, maar dan moet die gaste betyds opdaag.
  • Drie uit elke tien mense het gesê die braai van die vleis moet ʼn spanpoging wees, maar behoorlike braai-etiket is dat die gasheer of -vrou sélf braai. Hulp moet slegs aanvaar word wanneer dit aangebied word.
  • Die meeste mense in die studie het saamgestem dat aartappelslaai, groenslaai, knoffelbrood en roosterkoek die beste bykosse vir ʼn braai is. Die bykosse moet verkieslik deur die gasheer en -vrou voorsien word.
  • Altesaam 85% het gesê ʼn aparte rooster moet voorsien word vir mense wat vegetaries, halaal of kosjer is. Jan Braai stem hiermee saam.
  • Altesaam 40% van mense het nie gedink dit is belangrik dat die gasheer of -vrou vir die gaste laat weet wie anders ook na die braai toe genooi is nie, maar Jan Braai sê dit is beter om almal vooraf te laat weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

SjN ·

Ek weier om na n bring en braai te gaan, klap eerder saam en koop hetsy braaipakkies of selfde soort snitte, jy bring n T been en moet tevrede wees met n varttjop, sorry braai eerder tuis.

Frank ·

As jy jou voet teen ‘n klip stamp, is dit ‘n ongeluk.
As jy dit ‘n tweede keer teen dieselfde klip stamp, is jy stupid.
Maar nou ja, makliker gesê as gedaan…

Gummies ·

Ek braai saam met my vriende en familie en ons het ons eie manier. As jy dalk saam met iemand braai wat jy wil beindruk kan jy daai goed doen, anders maak jy mos soos dit vir jou pas op jou manier en soos jou vrou se jy moet dit doen.

Willie ·

Is Jan-Braai nou die nuwe Nataniel of Tannie MG Schoeman wat etiket voorsien. Elke huis het sy eie braai reels – eintlik is daar geen reels en etiket as dit by braai kom nie. Moet alles en alles nou afhang van een of twee TV-bekendes wat kamstig ietes weet van braai. Daai tipe mense verveel my tot in die afgrondes in.

Kiepie ·

Willie, ek dink Tannie Emsie Schoeman sal iets te sê hê oor mense wat haar Tannie MG noem. :-)

Rob ·

Wat weet jan braai van etiket, bet omdat hy n braai program het, beteken ni dat hy op hoogte is behalwe vir sy vervelige braai metodes wat hy elke opdis

Boer-in-die-Wind ·

“……’n apparte rooster vir mense wat vegetaries is.” Huh?

@Boer-in-die-Wind ·

Haha ek het presies dieselfde gedink toe ek dit lees. Watse “ekstra rooster” praat julle van? Nog nooit gesien nie.

AndrewL ·

Nee wat, kyk eerder na die “Kom ons Braai” kompetisie op Tv en sien hoe jy nie moet verspot raak nie.

E.K. die eerste ·

Ai hoe naar is party mense tog nou weer. Ekself VERPES dit om sommer by enigeen te braai. Daar is niks op aarde wat my meer iriteer as mense jou vir ‘n braai nooi en sê kom so 18h00 en dan steek hul die vuur eers 20h30 of so aan! Dan is ek al vodde geëet aan aartappelskyfies en grondboontjies want ek het verwag mens sal laatste 19h15 of so eet. Nee wat, as ons mense vir braai nooi is dit vir ‘n braai nie vir versnaperings en, ooo, jy het nog ‘n gaatjie wel hier is die vleis uiteindelik. Ons het sekere mense wat ons ken wie ons graag nooi en by wie ons graag ook braai. En dan is dit sommer ‘n fees. Terloops ene Willie – dis Emsie Schoeman nie MG Schoeman nie. Los vir Jan Braai ek dink hy is vet pret en sal enige tyd by hom gaan braai.

andre ·

WAT HET GEWORD VAN BRAAI.BRAAI EN GENIET..ALLES MOET INGEWIKKELD GEMAAK WORD…KAN ONS NIKS MEER GENIET SONDER OM DIT IN N ETIKET SAAK TE VERANDER NIE…GENIET JOU LEWE ….AS JY ETIKET EN VALSHEID SOEK GAAN EET SAAM MET DIE QUEEN ,MAAR SAAM MET MY GN JY BESLIS NIE BRAAI..

ANDRE ·

Ek dog n braai is n braai en jy reel hoe jy n ding gaan doen…..net soos met die res ??? Gaan virseker NIE met n “suit” by n braai opdaag en dan vies wees daaroor nie…

Liza ·

By ons huis word daar 3 tot 4 keer ‘n week gebraai, en ons geniet ons gate uit! Ons pelle (nie gaste nie) bring vleis en ‘n drinkdingetjie, die kinders jol en krap die huis deurmekaar. Ons voorsien die bykosse, maar pelle bring wat hulle wil en ons gooi alles saam. En ‘n braaibroodtjie is ‘n moet! Dit is veronderstel om ontspanning te wees! En ek het ‘n wonderlike man wat help met opruim as almal weg is….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.