Soorte resepte:

Hospitaal toe ná rissie-kompetisie

Die gevreesde Carolina Reaper (Foto: Pepper Joe’s)

Warm rissies kan soms ongemak veroorsaak, maar die Carolina Reaper is só warm, dit kan jou in ʼn mediese joernaal laat beland!

ʼn Artikel gepubliseer in die BMJ ondersoek die saak van ʼn 34-jarige man wat intense hoofpyne ontwikkel het nadat hy net een van dié warm rissies in ʼn kompetisie geëet het, berig die Guardian.

Navorsers sê die man het dadelik stuipe gekry toe hy die Reaper geëet het. Dié rissie het ʼn ongelooflike 1.6 miljoen op die Scoville-skaal gehaal, teenoor 5 000 vir ʼn jalapeño.

Die man is ʼn paar dae later ongevalle toe omdat hy skielike en ongelooflik pynlike hoofpyne ontwikkel het. “Dit begin skielik as ʼn erge pyn in die agterkant van die nek en versprei dan oor sy kop,” het outeur dr. Kulothungan Gunasekaran aan CBS gesê.

Ná verskeie breinskanderings het dokters bepaal dat die man se hoofpyne veroorsaak word deur ʼn toestand genaamd omkeerbare serebrale vaso-vernouingsindroom (RCVS), wat ʼn vernouing van die are behels. Dit kan sonder enige duidelike oorsaak voorkom, maar kan ook die gevolg wees van medikasie of onwettige dwelmmiddelgebruik. In hierdie geval het navorsers bepaal dat dit die eerste geval is wat deur rissies veroorsaak is.

Die man se are het binne vyf weke na normaal teruggekeer en daar is nie enige langdurige effek nie, maar aangesien RCVS tot ʼn beroerte kan lei in seldsame gevalle, het navorsers aangemoedig dat enigiemand wat soortgelyke simptome ervaar nadat hulle rissies geëet het, dadelik mediese behandeling moet kry.

Daar is ʼn warmer rissie as die Carolina Reaper, maar die boer wat Dragon’s Breath gekweek het, het gesê niemand het dit al ooit ingesluk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

Ek is ook baie lief vir chillies maar sal nou nie so ver gaan nie het al een geeet wat my erg laat sweet het my dogter ryg hulle so in het eendag die kombuis ontrent omgekeer en kry toe n uitgedroogde een het hy nou nie gebrand nie !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.