Soorte resepte:

Jan Hendrik open restaurant in SA

Jan Hendrik van der Westhuizen (Foto: Daniela Zondagh/The Food Narratives/ Instagram)

Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sjef Jan Hendrik van der Westhuizen het jare gelede reeds sy Michelin-ster-bekroonde restaurant, JAN, in Nice, Frankryk, oopgemaak, maar nou vind hy sy pad terug huis toe met ʼn restaurant wat hy binnekort in die Noord-Kaap gaan oopmaak.

Van der Westhuizen, wat op Nelspruit in Mpumalanga gebore is, is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie eer te beurt geval het nadat Michelin‑sterre in 2016 en 2017 aan sy restaurant toegeken is.

Van der Westhuizen het Dinsdag die nuus op sy webtuiste geplaas dat hy ʼn restaurant in die Tswalu Kalahari-wildreservaat, wat aan Nicky en Jonathan Oppenheimer behoort, gaan oopmaak.

“Ek is ʼn plaasseun, so gebore en getoë. Ek het altyd geweet dat ek eendag na die bosveld, na die kampvure en die opelug van my geliefde Suid-Afrika sal terugkeer,” het hy geskryf.

“Deur ʼn gedeelde passie en visie van alle dinge Suid-Afrika – ons kos, mense, gedeelde kulture en kuns – het ek in ʼn internasionale vennootskap met die Oppenheimer-familie gegaan.”

Van der Westhuizen het ook verklap dat dié restaurant se naam KLEIN JAN sal wees, vernoem na sy restaurant in Frankryk.

“Gedryf deur die waardes van die plaaslike egtheid, erfenis en volhoubaarheid van die omgewing, sal KLEIN JAN die streek se kulinêre middelpunt wees; ’n plek waar die Kalahari se unieke bestanddele in wêreldklas geregte omskep sal word,” het Van der Westhuizen geskryf.

“Ek het lank gedroom daaroor om hierdie kulinêre gebied te verken, wat volgens my, onbeperkte potensiaal het.”

Verder het hy ook aangekondig dat hy ʼn splinternuwe ontwikkelingskombuis in Kaapstad sal oopmaak, waar ʼn span sjefs en studente voortdurend Suid-Afrika se kosse sal ontwikkel en uitbrei.

“Ek is baie opgewonde om dié twee nuwe projekte saam met Nicky en Jonathan Oppenheimer aan te pak om my terug na my herkoms en na die sterre van die Afrika-hemel te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

bolla ·

Lyk soos Ruan Combrinck. Ek wonder of hy beter as Ruan kan rugby speel, behoort nie te moeilik te wees nie.

Johann ·

Ja shure….kosmaak saam met.die super rykes vir die super rykes? SO NOT toeganklik vir ons Suid Afrikaners.

Sanna ·

‘n Eenvoudige manier om skouers te skuur met hoipeloi was nog altyd om in top klas restaurante te beland en vir die hoipeloi te kook.

Oeps ·

Hoi Polloi is ‘n term wat die gewone man of “masses” beskryf so ek neem aan dis ‘n goeie ding wat hy doen?

Liamari ·

Tswalu is baie naby aan ons dorp. Tog was die meeste van ons gewone mense nog nie daar nie. Dis regtig net vir die super rykes wat R30 000 per nag vir verblyf kan uithaal.

Attie ·

Nee dis vir ons almal. Jou pryse verkeerde . begin so laag so R23800. Wat n wins koop. Of n grootter eenheid vir R165000. Mos niks so tussen vrinne nie

KosJanNiks ·

Ek sien nou die dag ou Jan maak daar in JAN(Frankryk) gebrande- en gedroogde pap wat in gewone pap gedruk word en dan vir ‘n hele pot pap verkoop word. Ek hoop nou net ou Jan gaan in KLEIN JAN iets anders maak aangesien ek daardie gebrande papoppapdis op gereelde basis self opdis. Daar bly selfs papindiepot oor vir melkoppap as laatmiddag na-nagereg.

Kerin ·

Kan nie wag om jou te verwelkom hier by ons in Twsalu nie! Sien vreeslik uit!

Amber ·

Tswalu is n ongelooflike plek!!! Was n paar jaar gelede daar vir 4 nagte. Die meeste gaste vlieg in tot daar. Ons het met ons gewone ou Land Rover van die Paarl af gery tot daar. Die gasvryheid is onbeskryflik. Jan Hendrik kon nie n beter plek gekies het nie.

Db ·

Ek hoop net hy stel sy eie sekuriteitsfirma aan om hom te beskerm want hierdie is nie Frankryk nie

Stinnie du Plessis ·

Ek “stalk” vir Jan, op tv, boeke, koerante… orals slurp ek elke brokkie resep, nuus, fotos … alles, van Jan op … ek berus dat ek nooit enige krummel wat van sy tafel val sal kan bekostig nie, maar steeds loer ek om elke hoek en draai en hoop om hom daar raak te blaai. Wonderlike nuus dat ons (die vevoorregtes) nou in SA van sy kosgeure gaan inasem. Mag dit net goedgaan met hierdie projekte van hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.