Soorte resepte:

Kaapse restaurant onder 50 bestes in die wêreld

Luke Dale-Roberts (Foto: Facebook via The Test Kitchen)

The Test Kitchen in Kaapstad is onlangs as een van die beste restaurante in die wêreld aangewys toe dit die 50ste plek ingeneem het in ʼn kompetisie wat deur meer as 1 000 kulinêre kenners beoordeel is.

Dié jaarlikse kompetisie, The World’s 50 Best Restaurants, het vanjaar op 19 Junie in Bilbao, Spanje plaasgevind. Dit bring die wêreld se beste sjefs bymekaar en gee ʼn smakie van die beste bestemmings vir unieke kulinêre ervarings, en dit is ook ʼn barometer vir gastronomie reg oor die wêreld.

The Test Kitchen het verlede jaar die 63ste plek in dié kompetisie ingeneem, maar pronk vanjaar in die 50ste plek.

(Foto: thetestkitchen.co.za)

Dié kompetisie het Osteria Francescana, ’n restaurant geleë in Modena, Italië, en onder leiding van sjef Massimo Bottura, as die beste restaurant ter wêreld aangewys. The Test Kitchen in Woodstock, Kaapstad, is die enigste restaurant in Afrika wat dié lys gehaal het en staan onder leiding van Luke Dale-Roberts. Hulle het ook by dié geleentheid die titel van Beste Restaurant in Afrika ontvang.

Volgens The World’s 50 Best Restaurants het The Test Kitchen ʼn kunstige en artistieke ontploffing veroorsaak toe dit Kaapstad se eerste fynproewer-restaurant geword het.

“Met geregte gebaseer op gewilde internasionale disse met bykomende Suid-Afrikaanse bestanddele, het sjef Luke Dale-Roberts se restaurant twee intieme onthaal-areas – een ‘donker’ en een ‘lig’,” het The World’s 50 Best Restaurants op hul webtuiste geskryf.

(Foto: thetestkitchen.co.za)

The Test Kitchen spesialiseer in kreatiewe kosse met ʼn Asiatiese invloed, en hul uitblinkerdis is skaapkop met ʼn gerookte appelslaai. Disse en wynparing-ondervindings wissel tussen R1 800 en R2 950.

The Test Kitchen is reeds tot Oktober 2018 volbespreek en as jy so gelukkig is om ʼn tafel te kry, word ʼn R600-deposito vereis om ʼn bespreking by dié gesogte restaurant te bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

brens ·

Wat n buitensporige bedrag geld vir daardie stukkies kos?? mense sterf vd honger in ons land, salarisse is die deposito bedrag vir sommiges?? Let the rich get richer nê? skreiende skande; maar welgedaan vir die Kaap.

Belaglik ·

Mense is maar lekker dom om soveel te betaal. As die deposito R600 is, wat gaan die finale rekening wees. Ek het ook al by ‘n “gesogte” restaurant geëet en was uiters teleurgesteld toe ‘n half rou wortel ook op die bord gepryk het. Nee wat, ek hoef niemand te beïndruk nie.

EBZ ·

Ag nee wat, hou verby. Daai foto’s doen niks vir my nie, eet veel lekkerder by die huis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.