Soorte resepte:

Kaapse welsynwerker wen gesogte baktitel

Tjaart Walraven, Zola Nene, Bianca Breytenbach, Anne Hirsch en Lentswe Bhengu (Foto: ANA)

ʼn Wes-Kaapse maatskaplike werker is Woensdagaand tydens die laaste episode van die The Great South African Bake Off-program as Suid-Afrika se belowendste amateurbakker aangewys.

Bianca Breytenbach (30), die algehele wenner van dié program, het 11 ander amateurbakkers oor ʼn tydperk van nege weke en 27 uitdagings uitgestof.

Beoordelaars was dit eens: Haar tipsy-tert met ʼn luiperdmotief het die kroon gespan.

Tjaart Walraven, ʼn beoordelaar saam met Zola Nene, Lentswe Bhengu en Anne Hirsch, het gesê Breytenbach se laaste gebak het die beoordelaars se knieë lam gelaat.

Breytenbach het tydens ʼn onderhoud ná die aankondiging gesê sy het glad nie verwag om as die wenner van dié kompetisie aangewys te word nie. “Ek is verstom. Ek kan nie glo ek het gewen nie – soos almal tereg uit my uitdrukking kon sien toe die aankondiging gemaak is,” het sy laat hoor.

Sy het haar ervaring tydens die vervaardiging van dié program as “onmeetbaar” bestempel. “My medebakkers was fantasties en ek is trots op ons elkeen – daar was moeilike tye, maar ons is daar deur. Ek het lewenslange vriende in daardie tent gemaak.”

Nene sê Breytenbach is ʼn waardige wenner van dié titel. “Hoewel die horlosie nie altyd haar beste vriend was nie, het sy deurlopend wonderlike gebak gelewer. Dit was wonderlik om haar week na week te sien groei,” het sy gesê.

Breytenbach het nóg goeie nuus met aanhangers gedeel. Die kranige bakker gaan in Januarie volgende jaar trou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. die eerste ·

Ek kyk graag kosprogramme (alhoewel ek self deesdae lui is om nuwe goed te probeer!) en was soms verstom oor die wonderlike gebak wat die klomp opgetower het. Baie geluk Bianca jy is ‘n waardige wenner.

Elmer Swanepoel ·

Ek het die hoogste respek vir iemand wat weet van bak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.