Soorte resepte:

Kalkoentjies trap al-so, al-so

Foto: @purzlbaum/Unsplash

Deur Herman Toerien

Kalkoene is in die nuus, en deesdae nie net weens die miljoene kalkoene wat met Kersfees en die Amerikaanse Dankseggingsdag verorber gaan word nie, maar hoofsaaklik vir die talle verbeterings wat moderne telers sedert die sewentigerjare teweeg gebring het.

’n Gemiddelde kalkoen is nou ongeveer die ekwivalent van ’n baie groot en vet hoender – veel swaarder as sy oupagrootjie, maar wat nog dieselfde hoeveelheid kos vreet.

Die mak kalkoen is geteel uit een van twee spesies wilde kalkoen, die Meleagris gallopavo, met die mak kalkoen wat uit een van ses subspesies daarvan geteel is.

Van die ander subspesies is besonder groot, terwyl die mak kalkoene hul grootte danksy selektiewe teling bereik het.

Die swaarste kalkoen wat geweeg is voor hy oond toe is, het op ʼn stertveer en ʼn aks na 40 kg geweeg. Hierteenoor het die swaarste wilde kalkoen wat ooit geskiet is, sowat 15 kg geweeg. Beide die mak kalkoen en een van die subspesies, Meleagris gallopavo silvestris, kan sowat 1,2 meter hoog in hul spore staan.

Die kalkoen is meer as 2 000 jaar gelede gedomestikeer. Die voorouer van dié kalkoen word die Asteekse kalkoen genoem, maar die krediet vir die eerste mak kalkoene moet eintlik aan ʼn ander volk, die Mayas gaan, en meer bepaald in Guatemala.

Die Asteekse kalkoen is blykbaar ’n nageslag van die Suidwestelike Meksikaanse wilde kalkoen. Bronne verskil oor die skaarsheid van dié kalkoen vandag en selfs oor die vraag of dit nie reeds uitgesterf het nie. Na berig word, leef sy gene egter vandag in die mak kalkoen voort.

Foto: Suzy Brooks/Unsplash

Sommige bronne noem as ’n feit dat kalkoene feitlik gelyktydig in twee plekke mak gemaak is, naamlik in Meksiko en in die suidweste van die VSA. Die teling in Guatemala is die beste bewys daarvan en word geneties gestaaf. Die Mayas het egter verspreid oor verskeie lande gewoon en het indrukwekkende stede gebou, insluitend Guatemala en Meksiko. Die interessantheid is dat dié soort kalkoen waaruit die gedomestikeerde kalkoen geteel is, nie in Guatemala self voorkom nie.

Benewens verskille wat met domestikasie voorkom (onder meer aan die skelet), kan navorsers nou ook die tyd van domestikasie bepaal deur die isotope wat aandui wat kalkoene gevreet het, te ondersoek. Wanneer dié isotope verklap dat mielies deel van die dieet uitgemaak het, weet ’n mens hulle was reeds mak.

Hoewel die mielie spruit uit die teosinteplant wat steeds voorkom en met die mielie kan baster, verskil die twee plante so baie dat vasgestel kan word wanneer daar begin is om mielies – wat net in gedomestikeerde vorm voorkom – deel van die kalkoen se dieet geword het (Die teosinteplant lyk meer na ʼn sorghumplant, en die are was – anders as met mieliepitte – nie deur skutblare bedek nie).

Mak kalkoene wei graag op landerye, maar word eerder as vriend beskou as vernieler omdat hulle insekte bo graan verkies. Hulle word dus steeds as belangrike vernietigers van peste beskou.

Iemand wat mak kalkoene ken, sal beswaarlik glo dat ’n wilde kalkoen vinniger as ’n galoppende perd kan hardloop. Een van die redes dat mak kalkoene aan die stadige kant is, is dat die telers die mak kalkoen met korter bene geteel het, juis om dit makliker te kan beheer.

Dit blyk egter dat die aanvanklike mak kalkoen nie stapelvoedsel was nie. Dit was meer vir die adel bedoel, en ook vir spesiale geleenthede van ’n spirituele aard.

Die kalkoen het ná Columbus se herontdekking van die Amerikas gou na sekere wêrelddele versprei, en so ook sy Afrikaanse naam gekry toe Nederlandse matrose dit die eerste keer in Kalkutta in Indië te siene gekry het. Hulle het dit Kalikoetse Hun (hoender van Kalkutta) genoem, waaruit die woord kalkoen ontstaan het. Toe Engelse nedersetters hulle later in die VSA gaan vestig het en kalkoene saamgeneem het, was hulle verbaas om uit te vind die kalkoen is al meer as 2 000 jaar aan die inboorlinge van dié land bekend.

Vanjaar, so word gemeen, sal die Amerikaners altesaam 210 miljoen kalkoene verorber – die meeste daarvan op dankseggingsdag. Dit beteken elke Amerikaner sal teen die einde van die jaar altesaam sowat 7 kg kalkoen geëet het!

Indien inflasie verreken word, betaal Amerikaners vanjaar minder as die helfte as wat hulle in 1970 per kilogram betaal het. Dié relatief goedkoper prys is aan ’n netwerk van faktore te wyte. Danksy die beter benutting van genetika en voeding lewer ’n kalkoen nou ongeveer 4 kg meer vleis per kalkoen as in die 1970’s. Sou dit nie die geval gewees het nie, sou 132 miljoen meer kalkoene teen vanjaar geproduseer moes word om aan die vraag na vleis te voldoen.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Kos, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Feite ·

Die Afrikaner in SA en oorsee verkies n skaapboud en n braai bo kalkoen!

EO ·

Feite, Of ‘n lekker gammon of beestong met lekker mosterd. Of lamsboud en groente, of beesstert en lekker groente.!!!! Yummie, hoe honger word ek nou!!!

E.K. die eerste ·

Nou toe nou, dankie Herman vir die interessanet artikel oor, wat vir my, ‘n baie lelike voël is! Hou nie van die “looks” nog minder daarvan om dit te eet. Maar ek gun elke diertjie sy plesiertjie so die wat dit wil eet, geniet – ek bly by die Suid AFrikaanse smake oor die feestye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.