Soorte resepte:

Kaneel maak melktert eg Suid-Afrikaans

Melktertmeester-stel in Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie

In Suid-Afrika, en veral vir Afrikaanssprekendes, is melktert soos biltong, rugby en rooibostee – dit is deel van jou erfenis!

Vandag is nasionale melktertdag en Maroela Media het gaan uitvind wat ʼn melktert eg Suid-Afrikaans maak.

Riana Mulder, outeur van die resepteboek Deur dik en dun en die bestuurder van versamelings by die Erfenisstigting, sê baie lande in die wêreld het ʼn soort variasie van melktert wat eie is aan dié lande, maar dat Suid-Afrikaanse melktert uitgeken kan word aan die kaneel of kaneelsuiker wat bo-oor gestrooi word.

“Dié soort vlatert kom oorspronklik van die Romeine af, maar wat dit Suid-Afrikaans maak is die kaneel of kaneelsuiker wat bo-oor gesprinkel word.

Kaneel se geskiedenis strek terug na so ver as 2 000 jaar voor Christus, toe dié spesery van China na Egipte ingevoer is en sy pad heelwat later na Suid-Afrika gevind het,” sê Mulder.

Daar word na kaneel verwys in die Bybel, omdat dit saam met wierook, mirre en goud van die kosbaarste geskenke was wat vir koning gebring is. “Omdat dit van so ver af gekom het, was dit baie duur en baie werd,” sê Mulder.

Argieffoto

Volgens Mulder was melktert ook in die tyd van Jan van Riebeeck baie bekend en is dié soetigheid geëet waar gereeld kermisse gehou is.

“Dit is maar die geur van kaneel wat dit huiskos, trooskos en gemoedskos maak. Ek weet nie van ʼn mens op aarde wat nie van kaneel hou nie. Dit laat jou dink aan ʼn huislike, gesellige familiekuier. Dit is so deel van ons soos biltong en rugby,” sê Mulder.

Mulder sê daar is verkillende weergawes van melktert, en dat elkeen sy of haar gunsteling-weergawe moet kies om vandag vir nasionale melktertdag te geniet.

“Vir my is die kors van die melktert nogal deurslaggewend. Ek hou persoonlik nie baie van die gekoopte skilferkorsdeeg nie; vir my is die lekkerste melktertkors ʼn soet krummelkors: lekker bros met baie botter! En dan natuurlik ʼn lekker dik en romerige vulsel, en met baie kaneelsuiker bo-op,” sê hy.

Of jy nou hou van ʼn melktert met ʼn skilferkors, ʼn krummelkors, ʼn korslose melktert, klein happie-melktertjies, met kaneel of kaneelsuiker op, dit maak nie saak nie. Een ding is seker, melktert is hier om te bly, en vandag vier ons presies dít!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Penellope Jones ·

Neewat, Nie fyn kaneel bo-oor gesif nie.
Eerder pypkaneel in die melktertvulsel . . . . .

Dries du Toit ·

En ASSEBLIEF.GEEN amandel geursel in die ding nie ASSEBLIEFFFFFF

Penellope Jones ·

Ek stem saam – GEEN amandel van geen aard hoort in melktert nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.