Soorte resepte:

Kapenaars kan nou koesisters op hul voorstoep kry

(Foto: Facebook)

Vir baie Kaap-Maleise gesinne is dit ʼn stryd om te besluit wie Sondae die strate gaan invaar om koesisters vir die familie te koop, maar dit is nou nie meer nodig nie, te danke aan die nuwe afleweringsdiens, Dial-a-Koesister.

Abdurageem Randal (29), sy niggie Juwayda Daniels en sy skoonsuster, Faieka Salie, het dié besigheid begin, juis omdat hulle met presies dieselfde probleem gesit het.

“Vir ons is dit ʼn normale ding om op ʼn Sondag koesisters te eet. Iemand moet dit altyd by ʼn stalletjie gaan koop, en dit lei altyd tot ʼn stryery oor wie se beurt dit dié keer is,” het Randal, gesê.

“Ons het toe probeer dink of daar nie ʼn manier is waarop ons dit kan laat aflewer nie, maar daar was niks nie! En dit is hoe ons met die idee vorendag gekom het.”

Foto: Facebook

ʼn Koesister is ʼn geurige, ovaalvormige oliebol wat diepgebraai word en in stroop gegooi word voor dit met klapper besprinkel word. Dit is anders as die harde, gevlegte koeksister wat baie mense daarmee verwar. Koesisters is lig en sag, en is deel van die Kaap-Maleise tradisie.

Daniels is die een wat die koesisters bak, Salie suiker hulle en Randal lewer dit dan af met sy bromponie. “As die aanvraag baie hoog is, gebruik ons ook ʼn motor, of soms sal vriende en familie help om die koesisters af te lewer.”

“Die bestellings kom deur die week in, en moet teen 21:00 die Saterdagaand in wees, om die Sondag afgelewer te word,” het Randal gesê.

Dial-a-Koesister lewer in die hele Kaapstad af, maar hulle moes vir tyd en wyl die noordelike voorstede op die lange baan skuif, totdat hulle by die aanvraag kan byhou.

“Ons moet eers ʼn permanente afleweraar aanstel voor ons weer met die Noordelike voorstede kan voortgaan, want anders het ons net nie genoeg tyd om al die aflewerings te maak nie,” het Randal gesê.

Randal het gesê hulle is oorweldig met die terugvoer wat hulle tot dusver gekry het.

“Ons is baie besig, ons kry ongelooflike goeie terugvoer. Die gemeenskap ondersteun ons baie goed en mense is baie gelukkig met die produk.”

Randal het ook gesê dat hulle bly is dat mense van alle kulture, nie net Kaap-Maleise gesinne nie, dié koesisters op Sondae laat aflewer.

“Ons het nooit verwag dat die besigheid so goed gaan doen nie, ons is so dankbaar,” het Randal gesê.

Om ʼn bestelling te plaas, WhatsApp Abdurageem by 073 367 1895 voor 21:00 elke Saterdag. Die koesisters kos R10 vir drie, en afleweringskoste van R2 per kilometer buite Wynberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SNEL ·

Sonja, Koeksisters is die boere koeksisters met stroop soos ons boere dit ken. Koesisters (sonder die tweede k) is die Maleise lekkerte, ook in olie maar baie speserye in die beslag, amper soos n dougnut. Ruik heerlik as die deeg rys. Ek het dit een keer gemaak. Ek het ook nie eers geweet daarvan en van die verskil in spelling nie, tot ek gegoogle het om die wenner van wenners koeksisterresep te kry.

Elmer Swanepoel ·

Daar is ‘n verskil tussen die twee. die verskil word n die berig uitgespel!

AP ·

Ai Abdurageen hoe neem jy my nou terug na my kinderdae in die sestigerjare, ons het in Milnerton gebly en elke sondag oggend het twee dogters van huis tot huis gestap om die koesisters te verkoop, dit was vir my ‘n heerlikheid van my kinderdae wat ek nooit sal vergeet nie, jy weet daardie smake en geure, ek is mal oor alle Kaap-Maleise disse, my moeder was bevriend met ‘n Maleise dame en ons het altyd hierdie heerlike kerries en gebak van haar ontvang. Voorspoed met die koesisters!!!!

Koeksister ·

N koesister is die een op die foto. n Koeksister is die gevlegte een wat ons boere tannies bak. Dis die verskil.

Klippie ·

Wanneer plaas julle ‘n resepie vir ‘n KOESISTER (soos op die foto)? Koeksister resepte is volop!!

Theo ·

Kaap is te ver gaan te veel kos om op te stuur. So kan ons nie die resep kry nie . Sal graag wil probeer maak

Linda Gouws ·

Ai dit klink heerlik! Kan hulle nie dit ook in Gauteng begin doen nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.