Soorte resepte:

Klein Weskus-restaurant dalk onder beste ter wêreld

Wolfgat se uitsig (Foto: Instagram via. Wolfgat)

Die Wêreld Restaurant-toekennings word vanjaar vir die eerste keer aangebied om die beste restaurant in die wêreld te vereer en ʼn klein Suid-Afrikaanse restaurant het ook die kortlys gehaal.

Dié toekennings word vanjaar in Parys, Frankryk, aangebied.

Wolfgat, ʼn 20-sitplek-restaurant in die Weskusdorp Paternoster, onder leiding van befaamde sjef Kobus van der Merwe, is op die kortlys geplaas in die kategorie vir die beste “Off-map”-bestemming saam met vier ander restaurante, onder meer Mil in Peru en Tokuyamazushi in Japan.

Wolfgat het op Facebook geskryf hulle is baie opgewonde om vir dié toekenning benoem te word.

“Ons voel ongelooflik geëerd en verras om die kortlys te haal vir die Wêreld Restaurant-toekennings 2019. Ons is in verwondering oor ons medebenoemdes. Parys, hier kom Wolfgat!”

Wolfgat se uitsig (Foto: World Restaurant Awards)

Die beoordelingspaneel van dié kompetisie bestaan uit sjefs, restauranteienaars, joernaliste, boekuitgewers, aktiviste, rolprentmakers en voedselwetenskaplikes van 37 verskillende lande oor die hele wêreld.

Wolfgat is bekend vir hul volhoubare metode van kosvoorbereiding deur gebruik te maak van volhoubare seekos, plaaslike lams- en wildsvleis en seisoensveldkos. Hulle gebruik ook wilde kruie en seegras vanuit plaaslike poele.

Sommige elemente op die spyskaart neem weke om voor te berei, terwyl ander bestanddele op die dag van bediening met die hand gepluk word vir die spesifieke getal gaste by die restaurant.

Die toekenningseremonie vind op 18 Februarie by die Palais Brongniart in Parys plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renaldo ·

Baie geluk!! Dis is voorwaar ‘n eer en prestasie. Ek hou die nuus dop!

Essa ·

Dis nou bakgat, Wolfgat! ‘n Kuier by julle moet ‘n belewenis wees. Nou is dit van Paternoster na Parys – beste wense!

Michael ·

Ek kan verstaan hoekom dit een van die bestes is ek was al daar . Maak moeite om te gaan is die moeite werd “Well done Wolfgat”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.