Soorte resepte:

Kom sit aan om die Langtafel op die Duin

Duinhuis deur Isabella Niehaus (Foto: Verskaf)

In Duinhuis nooi Isabella Niehaus alle lesers uit om aan die Langtafel op die Duin te kom aansit en te smul aan haar Duin-spesialiteite.

Dít is egter nie jou gewone kookboek nie, maar ’n aweregse boek gevul met kleurryke verhale wat hand aan hand loop met bypassende aardse towerresepte.

Duinhuis draai weg van die tradisionele formaat van ’n resepteboek, waar die resepte onder spesifieke kategorieë en hoofstukke verdeel word. “Almal wat lief is vir kook, oud en jonk, kan hierdie kookboek eerder soos ’n storieboek lees,” sê Isabella.

Dié oudmoderedakteur se huis op die duin in Langebaan het gedien as inspirasie vir die boek. “Die kookboek staan vir alles wat die duin vir my beteken en dit is ’n direkte weerspieëling van my persoonlikheid.” Isabella beskryf Duinhuis as ’n eerlike en opregte boek wat haar lewensverhale en passie vir kosmaak saamvat.

Die kookboek is ’n kombinasie van geure en smake en sluit van haar gewildste resepte in, soos Duinmossels en -oesters asook geregte vanuit haar oorsese reise, soos Spaanse platbrood. Afgesien van haar smullekker mosselbobotie, raai sy lesers ook sterk aan om veral die gerooktesnoek-kaaskoek en sjokoladetarte voor te berei. “Dié sjokoladetarte is die heel maklikste resep ooit. Dit kan nie misluk nie. En jy kan dit jou eie identiteit gee.”

Bekendes in koskringe soos Reuben Riffel, Louis Jansen van Vuuren, Hardy Botha, Carmen Niehaus, Hannes Koeglenberg, Nina Timm en Karen Hart lewer spesiale bydraes tot die boek.

“Ek het ’n lang pad saam met elkeen van hulle gestap en wil hulle graag hartlik bedank deur vir elkeen ’n plekkie in my kookboek te gee,” sê Isabella. Die boek is opgedra aan haar 33-jarige seun, Taro Niehaus.

Isabella se Langtafel op die Duin is ’n instelling by haar grys sementhuisie op die wit Weskus-duin. ’n Vyfgangmaaltyd word maandeliks elke tweede Sondag vir die Langtafel-gaste van wyd en syd op die Duinhuis se stoep voorgesit. Volgens Isabella is dit die perfekte geleentheid vir die lekkerste mense om gesellig te verkeer met die liefde vir kos en wyn as die grootste gemene deler.

“Jy moet saggies met kos werk, net soos wat jy mense sou behandel. Jy moet ook alle mense en situasies in jou lewe met respek behandel, net soos kosmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.