Soorte resepte:

Kombuiswenke: Wat is die verskil tussen botter en margarien?

Alhoewel botter en margarien gesien word as twee soortgelyke produkte, is daar eintlik baie verskille tussen dié twee. Die hoofverskille tussen die twee is dít waaruit die produk bestaan en die tipe vet wat daarin gevind word.

Botter

Botter is ʼn suiwelproduk wat gemaak word deur melk of room aanhoudend te karring. Die karringproses veroorsaak dat die vastestof (bottervet) van die vloeistof (karringmelk) skei. Botter word gebruik om brood te smeer, in gebak, en as ʼn kookbestanddeel in die kombuis.

Oor die algemeen word botter gemaak van koeimelk, maar dit kan ook van skaap-, bok- of buffelmelk gemaak word.

Botter het gewoonlik ʼn liggeel kleur, maar dit kan wissel tussen wit en donkergeel, afhangend van die dier se eetgewoontes, asook die produksieproses. Omdat botter uit slegs een bestanddeel bestaan, kan dit ook by die huis gemaak word. Sommige produseerders voeg ook sout, geurmiddels en preserveermiddels by, maar die basis van die produk is slegs een enkele bestanddeel.

Nadat die melk gekarring is, kan die botter weer geklop word om ʼn meer smeerbare vorm van botter te maak. Deur die botter te klop, word meer lug binne die botter toegelaat, wat die digtheid van die botter verminder. Dit maak dit maklik om die botter te smeer.

Botter moet ʼn vet-persentasie van ten minste 80% hê om as botter geklassifiseer te word.

Margarien

Margarien is ʼn nie-suiwel-produk wat dien as ʼn plaasvervanger vir botter. Margarien word gemaak van plantaardige olie, water, sout en emulgente. Party tipes margarien bevat ook melk, en soms word geurmiddels bygevoeg om dit ʼn botter-smaak te gee.

Margarien kan in ʼn blok of houer gekoop word. Die blok werk gewoonlik goed om mee te bak, en die houer-margarien is goed wanneer jy dit op iets wil smeer. Hoe meer solied die margarien is, hoe meer transvette bevat dit wel.

Anders as botter, kan margarien nie by die huis gemaak word nie. Iets wat margarien en botter wel in gemeen het, is die vet-inhoud van die produk. Normale margarien moet ook ʼn vetinhoud van 80% hê; enigiets anders as dit word as ʼn smeer geklassifiseer. ʼn Smeer kan van 10 tot 90% vet bevat.

Daar is baie variasies van margarien, en die verskille sal op die produk se etiket gesien kan word.

Omdat margarien se primêre bestanddeel olie is, bevat dit nie die cholesterol en versadigde vette wat botter bevat nie. Dit het hoër vlakke van poli-onversadigde vette, asook mono-onversadigde vette (die goeie vette). Alhoewel baie produsente van margarien wel transvette (slegte vette) bevat, het baie produseerders al maniere gekry om dit uit te skakel uit dié bestanddele, deur byvoorbeeld eerder palmolie te gebruik.

Wat is die verskil?

Die tipe vet wat in botter en margarien gekry word, is baie verskillend. Omdat botter afkomstig is van diervet, is dit hoër in versadigde vette en cholesterol as margarien. Botter is wel ʼn meer natuurlike produk met minder bymiddels. Terwyl botter afkomstig is van diervet, word margarien uit olie gemaak. Dié verskil beïnvloed die smaak, tekstuur en voedingswaarde van die produk.

Wanneer dit by resepte kom, is dit beter om nie die twee met mekaar te vervang nie. Wanneer jy byvoorbeeld iets bak en die resep bevat botter, moet dit nie met margarien vervang nie, want dit kan ʼn impak hê op die eindproduk se tekstuur en smaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Renie ·

Smeer botter bv Butro ens, bevat dit ook olie om dit smeerbaar te maak?

Renie ·

Bevat smeerbotter bv Butro ens ook olie om dit smeerbaar te maak?

Ellisras ·

Ek onthou nog die dae toe die Suiwel raad (regering) geel margarine in die land verbied het. Daar was net wit margarien Daar is toe tonne geel margarine uit Rhodesië ingesmokkel. Die goeie ou dae.

Johan de Beer ·

So, julle kry dit reg om lig in die botter in te klop? Laat weet asb vir NASA en ook vir Elon Musk hoe dit gedoen word.
Dalk kan hulle die metode gebruik om ‘n nuwe botter gebasserde ligbron te ontwerp.

Delia ·

Hehehe, ja Johan, ek het ook lekker gelag vir die “lig” wat ingeklop word……wou maar niks se nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.