Soorte resepte:

Video: ‘Kook saam Kaaps’ se wenspan

Koelsoem en Flori (2)

Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. Foto: lapa.co.za

Wat ʼn groot bederf is dit om vir tannie Koelsoem Kamalie en tannie Flori Schrikker te ontmoet! Dié twee vroue het vroeg vanjaar hul kookboek, Kook saam Kaaps, bekendgestel. Wanneer mens deur die boek blaai, kry jy ʼn gevoel van warmte en gemak, nes die boek se skrywers. Maar dis veral die voorblad wat jou oog vang met ʼn foto van Flori en Koelsoem wat oopmond lag, wat hul gees so mooi vasvang.

“Daai crockery in die boek is onse crockery. Sien jy daai bak?” vra Flori terwyl sy na ʼn foto in die boek wys. “Daai bak is twee keer ouer as wat ek is.”

Koelsoem en Flori vertel van familielede wat hulle reeds van ʼn jong ouderdom leer kook het en hoe dit hul kosmaak beïnvloed het.

“Kaapse kos is lekker kos want ons maak dit met baie liefde. Ons probeer die resepte so gemaklik en goedkoop as moontlik maak sodat die man op straat dit ook kan maak,” sê Koelsoem.

Flori beaam dit en meen dis kos soos wat jou ma en ouma dit maak. “Daai tyd was daar nie ‘teevee’ gewees nie, so die mense het maar kos gemaak,” skerts sy.

Eg Kaapse resepte soos groenboontjiebredie, koolfrikkadelle en sagopoeding is ook in die boek en beloof om onfeilbaar te wees aangesien hierdie resepte oor generasies getoets en vervolmaak is.

Al word Koelsoem en Flori ʼn geruime tyd al op RSG in Amore Bekker se program, Tjailatyd, gehoor waar hulle gereeld resepte met luisteraars deel, het hulle veral die afgelope jaar baie mediadekking gekry.

Albei vroue sê hoewel die resepteboek net seën bring, is hulle tevrede met hul lewens en die bekendheid wat hulle verwerf het, gaan hulle nie verander nie.

“Ek wil nie hê die boek moet my grootkop maak nie – I just wanna stay humble,” sê Flori.

Terwyl ek na die staaltjies van hierdie twee vroue luister, wens ek ek kon net vir ʼn dag saam met hulle in ʼn kombuis deurbring. Nie om te help kook nie (dit kan net ʼn ramp veroorsaak),  maar net om te sien hoe hulle te werk gaan. Flori en Koelsoem gee ʼn nuwe betekenis aan “sielskos”…

Koop die boek hier.

Kyk na die video om te sien vir watter bekendes die twee vroue sal kook en watter gereg hul gunsteling is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsabe ·

O jissie ek geniet hierdie twee geweldig! As hulle op RSG praat met Amore sit ek en my man die radio soos in kliphard om elke woord te hoor! Hulle is so Kaaps soos kan kom!

Ruby ·

Maroela, help asb.

Ek kan geen video op julle webwerf oopmaak nie. Ek het al dat my in-house IT kyk maar hulle kry niks.

Ek kan enige video op enige ander webwerf oopmaak asook youtube waarop ek gereeld is.

Ek hoor graag van julle of enige iemand ander wat kan help.

Ruby ·

Maroela, help asb.

Ek kan geen van julle videos oopmaak, my in-house IT het al gekyk en kry niks fout van my kant af.

Ek maak alle videos oop op enige webwerf asook youtube waarop ek baie is.

Ek hoor graag van julle of enige iemand wat dalk kan help.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ruby

Dankie vir jou navraag. Ons ondervind soms tegniese probleme waar video’s nie op mobiele toestelle soos slimfone of tabletrekenaars wil werk nie. Kyk asseblief of jy dalk die video direk kan oopmaak by http://maroelamedia.co.za – ons ontwerp is van so aard dat dit optimaal op enige skerm sal vertoon.

Laat weet ons asseblief by [email protected] indien jy nog steeds nie regkom nie, dan probeer ons verder om die probleem op te los!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.