Soorte resepte:

Lief vir eet? Só kan jy ook reg eet!

Deur Michelle Zietsman

(Argieffoto: Pixabay.com)

Banting, paleo, keto, laevet, lae GI … Dis alles terme wat ons deesdae raaklees op sosiale media en wanneer ons oplees oor gesonde eetgewoontes. Diëte en gonswoorde soos hierdie maak dit regtig moeilik om te weet wat ons kan en nie kan eet nie. Hierdie onsekerheid veroorsaak stres, en dan geniet ons nie meer ons kos nie.

Dit is ’n jammerte, want voedsame kos gee vir ons energie vir daaglikse aktiwiteite, bevorder ’n gesonde immuniteit en bring vriende en familie gesellig saam rondom ’n heerlike maaltyd.

Voeding was nie bedoel om so moeilik te wees nie.

Dis soms nodig dat ons terugkeer na die basiese beginsels van gesonde eetgewoontes. Kom ons begin deur te onderskei tussen ’n dieet en ’n leefstyl.

’n Dieet is ’n program wat gewoonlik vinnige resultate in ’n kort tydperk belowe. Dit is gewoonlik korttermyn en vereis dat jy ’n voedselgroep uitsny en/of jou kalorieë beperk. Dit kan jou wel aanvanklik help om gewig te verloor, maar is gewoonlik nie volhoubaar nie. Dit is nie net demotiverend om sekere kosse uit te sny nie, maar vir party mense verhoog dit hulle begeerte daarvoor. Indien ons dan wel swig voor die begeerte en van die kossoort eet wat ons “veronderstel” is om te vermy, voel ons skuldig, of voel dit asof ons poging om gewig te verloor, misluk het. “Ek kan nou netsowel eet wat ek wil vir die res van die dag … of naweek … of maand,” redeneer ons dan. Op dié manier word ’n bose siklus aan die gang gesit.

Die “bordmetode” is ʼn eenvoudige, visuele instrument wat jou in staat stel om ‘n gesonde eetpatroon te vestig.

’n Leefstyl, daarenteen, word gedefinieer deur die individu se gedragspatrone en gewoontes en is gebaseer op ’n waardestelsel. Goeie eetgewoontes kan ook oor tyd aangeleer word en mettertyd ’n integrale deel van jou leefstyl. Gesond eet kan dan lekker wees!

As jy al moedeloos is met jou onsuksesvolle pogings om gewig te verloor, sal dit goed wees om net weer te begin by die basiese beginsels. Ek vind dat die “bordmetode” (plate method) ’n lekker eenvoudige, visuele instrument is wat ons kan help hiermee. Hierdie metode stel ons in staat om ons eie gesonde eetpatroon te vestig, wat vir ’n leeftyd volhoubaar kan wees.

Volgens die bordmetode (sien die grafika) behoort ons dieet elke dag ’n groot verskeidenheid volgraanprodukte, groente, vrugte, proteïene en hul alternatiewe, suiwel en hulle alternatiewe en ook gesonde vette in te sluit. Dit dui ook min of meer aan wat die verhouding tussen die verskillende voedselgroepe moet wees vir ’n gebalanseerde maaltyd. Hierdie is egter net riglyne en nie streng reëls nie.

  1. (Argieffoto: Pixabay.com)

    Groente en vrugte moet die helfte van die bord opmaak (meer groente as vrugte). Bronne van groente en vrugte is vars vrugte, tamatie, slaaiblare, groenboontjies, kool, murgpampoentjies, aspersies, komkommer, soet rissies, sampioene, spinasie, blomkool, uie ensovoorts. Voordele van groente en vrugte is die volgende:

  • Dit bevat baie antioksidante (vitamien A, C, E) wat help om te beskerm teen infeksies
  • Dit help vir gesonde oë en vel
  • Dit bevorder die genesing van wonde, en
  • Dit is ryk in vesel, wat die risiko vir chroniese siektes verlaag.
  1. Koolhidrate moet ʼn kwart van die bord opmaak. Die meeste daarvan moet bestaan uit volgraanprodukte soos volgraanpasta of -brood, bruinrys, hawermout, boontjies, lensies, beet, pampoen, mielies en ertjies, patats, quinoa, volgraan-koeskoes, volgraanbeskuitjies ensovoorts. Volgraanprodukte is ryk in vesel, wat hardlywigheid teenwerk. Vesel help ook om cholesterolvlakke af te bring, en die vitamiene B daarin help om die energie in proteïene, koolhidrate en vette vry te stel, wat ʼn belangrike rol in ʼn gesonde metabolisme speel.
  1. (Argieffoto: Pixabay.com)

    Proteïene moet tipies die laaste kwart van die bord uitmaak. Maak seker dat jy gereeld meer plantgebaseerde proteïene deel van jou etes maak en nie net proteïene wat van diere af kom nie. Goeie bronne van proteïene is boontjies, lensies, neute en sade, soja, hummus, eiers, laevetkaas, tuna, stokvis, salm, hoenderborsies en maer rooivleis.

Proteïene soos vleis, hoender en vis, asook alternatiewe vir vleis soos boontjies, lensies, neute en sade bevat vitamiene B, vitamiene E, yster, sink en magnesium. Dit speel ’n groot rol in die liggaam se senuweestelsel, vorm nuwe bloedselletjies en versterk die immuniteitstelsel. Proteïene is die boublokke vir ensieme, hormone en vitamiene wat bene, spiere, vel en bloed gesond hou.

  1. Een of twee teelepels gesonde vette kan ook ingesluit word, waarvan die meeste plantvette moet wees. Moontlike bronne is avokadopeer, neute, sade, olywe, olyfolie en grondboontjiebotter.
    Goeie vette is ’n uiters belangrike gedeelte van ’n gesonde dieet. Plantaardige vette soos avokado’s, olywe, neute, sade, olyfolie en avokado-olie is ryk in omega 3-vetsure wat anti-inflammatoriese eienskappe het en wat die risiko van kardiovaskulêre siektes, rumatoïede artritis en hoë bloeddruk verlaag.
  1. Suiwelprodukte soos melk en gewone, ongegeurde, onversoete jogurt, sowel as soja- of amandelmelk wat verryk is met kalsium, verlaag die risiko van osteoporose en versterk bene. Mans en kinders kan ongeveer twee koppies per dag inneem, en vroue min of meer een koppie, maar maak dit meer indien jy ʼn tekort aan kalsium of ʼn risiko vir osteoporose het.
  1. (Argieffoto: Pixabay.com)

    Maak seker jy neem genoeg water in deur die loop van die dag. Water moet altyd die drankie van keuse wees!

’n Gesonde dieet is duidelik glad nie beperkend nie, en ’n groot verskeidenheid vars kos wat so min moontlik geprosesseer is, hou talle voordele in. Daar is baie opsies waaruit jy kan kies om jou eetgewoontes só te kry dat jy steeds jou kos geniet. ʼn Groot verskeidenheid voedsel bevorder jou gesondheid sodat jy optimaal kan funksioneer en verlaag jou risiko vir siektes.

Jy kan ook alle kossoorte geniet sonder om skuldig te voel. Ons gesondheid word bepaal deur wat ons elke dag eet, en nie deur die sjokolade of wegneemete wat jy soms (so een keer ’n week) eet nie. Fokus dus daarop om elke dag goeie voedselkeuses te maak. Maak dit jou eie en maak dit ’n leefstyl!

Indien jy spesifieke mediese toestande of gesondheidsuitdagings het, raadpleeg liefs jou dokter of ʼn dieetkundige om jou te help met ʼn eetplan wat daarvolgens beplan is. As jy gewig wil verloor, swanger is of borsvoed, ʼn kind of tiener is, of voorberei vir ʼn sporttoernooi, is dit ook ʼn goeie plan om by ʼn dieetkundige ʼn draai te maak sodat jou daaglikse kalorieë vir jou as individu aangepas kan word.

  • Michelle Zietsman is ʼn dieetkundige van Dieticians at Work by NHC Medical Centre Honeydew. Vir ʼn konsultasie, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cali ·

Calories in VS Calories Out. eenvoudig. Hou op lui wees, en oefen ook n bietjie.

Biefstuk ·

As ek drie keer ‘n dag ‘n gebalanseerde bord kos moet eet waarvan 50% bestaan uit grane en vrugte begrawe hulle my oor ‘n dekade of twee met T2DM

Dina ·

Dankie hiervoor. Daar word deesdae so baie verskillende dieete aangekondig dat mens nie meer weet wat jy mag en moet eet nie. Dan is dit reg en netnou is dit weer verkeerd. Dit blyk maar beste te wees om net gebalanseerd en matig te eet.

JK ·

Ek was en sal ook nooit op n dieeet wees nie, niemand moet ooit nie, want om op een te wees dui aan dat jy erns van dit AF gaan wees. Verander jou lewens styl, en kry oefening in. ALS in moderasie.

Biefstuk ·

Dankie MS – so wat nou van die ander etes dan? Moet ek die bord se verdeling versprei oor die dag, of net een keer per dag eet, of net ‘n derde van die kwarte eet drie keer per dag?

(Sien – meer vrae as antwoorde :) )

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.