Soorte resepte:

Luister: Kookboek inspireer jou om lekker kos, wat ook gesond is, voor te berei


Jou-beste-lewe-gesond-01

Dr. Michael Mol en John Berry het pas ‘n kookboek vol gesonde gesinsetes vrygestel. Foto’s: Esté Meyer Jansen.

Gesond eet mag nooit vervelig wees nie. Dit is die filosofie van dr. Michael Mol en John Berry wat vroeër dié maand saam ʼn inspirerende kookboek bekendgestel het. Dié kookboek bevat 93 gesonde, vinnige resepte wat ideaal is vir die hele gesin.

Die kookboek, Jou beste lewe: Vinnige en gesonde gesinsetes, is op 16 Maart in die swierige Anna’s Kitchen-restaurant in Vereeniging bekendgestel waar gaste die geleentheid gehad het om 15 van die geregte te proe. Daar is gesmul aan soet-en-sout gemengde neute, satay-hoender en rysnoedelslaai asook salmslaai, maar die gaste was dit eens dat die riboog-biefstuk met “café de Kaapstad”-botter die lekkerste gereg was en die Hulk-smoothie die smaaklikste drankie.

Mol, ʼn mediese dokter en die uitvoerende vervaardiger en aanbieder van die gesondheidsprogram op TV, Hello Doctor, en John Berry, ʼn sjef en stigterslid van Kauai Health Foods, se kosfilosofie kompleteer mekaar perfek. Albei die manne glo maaltye moet uit heel kosse bestaan en die voorbereiding en eet daarvan is ʼn geleentheid vir samesyn.

Buiten dat die resepteboek voorsiening maak vir verskeie dieetkundige behoeftes soos ’n laekoolhidrate-hoëvet-, vegetariese, vegan, asook suiwel-, gluten- en graanvrye eetplan (wat met ikons onderskei word by elke resep), is daar ook pittige opmerkings uit die pen van Mol.

Hy het tydens die bekendstelling ʼn paar van sy idees oor ʼn gesonde leefstyl met die gaste gedeel:

  • Genoeg slaap, gesonde maaltye wat net uit heel kosse bestaan en oefening is die drie belangrikste elemente van ʼn gesonde leefstyl.
  • Doen hoofsaaklik inkopies aan die buitekant van die winkel, vermy die gange in die middel van die winkel.
  • Jy kan tot drie koppies koffie per dag geniet. Die gesondheidsvoordele van die hoeveelheid koffie is reeds wetenskaplik bewys.
  • Wees maar versigtig met wyn onder die ouderdom van 40, want dan is daar meer nadele aan die verbruik van alkohol. Ná 40 kan ʼn mens gerus ʼn glas rooiwyn daagliks geniet omdat die gesondheidsvoordele dan groter is as die nadele.
  • Mol is ook ʼn voorstander van Tim Noakes se laekoolhidrate-hoëvet-dieet. “Tim het ons anders oor ons dieet laat dink en ek vermoed die wêreldleiers in dieetkunde gaan binnekort die eetplan aanvaar,” het Mol afgesluit.

Jou beste lewe: Vinnige en gesonde gesinsetes word deur CUM-uitgewers uitgegee en kan direk van die uitgewer bestel word. Besoek www.cumuitgewers.co.za.

Maroela Media het ook ʼn resep van een van die gesonde nageregte, Sjokoladetertjies met ʼn neutkors, gepubliseer.

Luister ook na die podsending bo-aan die artikel om meer wenke van Berry en Mol oor gesonde gesinsetes en ʼn gesonder leefstyl te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.