Soorte resepte:

Luister: Polisiekarre stel nuwe bier bekend

Skyn-Heilig-Weiss-Bier.jpg

Skyn Heilig Weiss-bier. Foto: Facebook

Leonie Bezuidenhout

Daar is ʼn hele paar ooreenkomste tussen die liriek van Fokofpolisiekar se bekende lied, “Ek skyn (heilig)”, en die jongste toevoeging tot die groep se mikrobrouery-bierfamilie, Skyn Heilig.

In dié lied sing Francois van Coke oor die somer en dat hy wil weet wanneer die revolusie verby is. Die nuwe bier is net betyds vir die somer bekendgestel en met dié reeks het hulle dalk nou juis ʼn revolusie begin.

Volgens Jaco ‘Snake’ Venter, die tromspeler van die groep, het hulle nog altyd die idee in hul agterkop gehad om ʼn bier met ʼn Fokofpolisiekar-handelsmerk uit te gee. Nou, jare nadat hulle die Afrikaanse rockmusiek-toneel oorrompel en kultusstatus bereik het, het hulle die reeks biere op die mark geplaas in samewerking met die Sir Thomas-brouery in Stellenbosch. “Skyn Heilig is die laaste een in die reeks. Dit is ʼn Weiss-bier (wit bier) met ondertone van piesang en pynappel. Dit is baie lekker,” het hy gesê.

Elkeen van die bierboeties is vernoem na ’n Fokofpolisiekar-treffer. Skyn Heilig, die vierde en laaste een in die reeks, is die opvolger van die ander gewilde mikrobrouery-biere, naamlik Dag Dronk, Antibiotika en Hemel op die Platteland. “Ons het agtergekom ons het baie liedjies wat hulle tot biername verleen,” het Jaco geskerts.

Daar was ʼn magdom ondersteuners met die bekendstelling by RAD in Centurion. I AM, Sayonara en Feed the Wolf is drie rockgroepe wat die opgewonde skare opgewarm het met lekker harde klanke voordat Fokofpolisiekar die verhoog betree het. “Die kuierplek en al die optredes was puik. Die diens by die kroeg was flink en ek kon sien hulle het alles vooraf goed beplan,” het Chris Vermaak, ʼn partytjieganger, gesê.

Die tromspeler van die alternatiewe popgroep I AM, Myles Ryan, het gesê dit was ʼn groot voorreg om die vooraf-spelers vir Fokofpolisiekar te wees. “Ek is ʼn groot aanhanger. Ek het ure op my tromme geoefen met hul musiek in my ore. Ek wou soos Snake wees en nie omgee wat mense van my dink nie. Dit was vir ons ʼn eer om vir hulle ‘oop te maak’ en ons sal dit graag weer doen.” Die terugvoer van die gehoor het hulle “laat weet hulle doen iets reg”, het hy geskerts.

Pierre-Henri Nel, hoofsanger van I AM, het dit beaam. “Ons het nie daardie energie van die gehoor verwag nie omdat ons in Engels optree. Dit was ʼn goeie aand.”

Maroela Media het met Jaco ‘Snake’ Venter gesels oor die nuwe toevoeging tot hul versameling biere.

Foto’s deur Henno Kruger Photography en Warwick Soar .

Kyk na Fokofpolisiekar se video van “Ek skyn (heilig)” hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan 2 ·

Baie geluk aan “die bende”! Ek sien uit daarna om dit te proe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.