Soorte resepte:

Maandelange waglys vir dié SA restaurant

 Luke Dale-RobertsDie wêreld se 50 top-restaurante vir 2015 is onlangs bekend gemaak en die Test Kitchen in Kaapstad het die 28ste plek op dié lys behaal.

Luke Dale-Roberts, eienaar en sjef van dié gesogte restaurant, sê alles in sy lewe gaan oor vooruitgang en kwaliteit. “Ek moet vorentoe beweeg,” sê hy.

Dale-Roberts is in Brittanje gebore en het opleiding in Engeland en Switserland ontvang. Daarna het hy vir vyf jaar in Asië gewerk, waar hy verskeie restaurante in Singapoer, Malasië, Suid-Korea en die Filippyne op die been help kry het. “In Europa het ek leer kook, maar my horison is in Asië verbreed,” sê hy.

Die Test Kitchen in Woodstock het sy deure vir die publiek op 24 November 2010 geopen en is bekend vir sy massiewe oopplankombuis en kreatiewe uitleg en kookkuns. Die kos word as eklekties en internasionaal beskryf, as “verbeeldingryke geurkombinasies met ’n artistiese aanbieding”.

“My werk is nou om ’n ongelooflike restaurant te bestuur, om uitsonderlike kos te maak en om geleenthede te skep vir die nuwe generasie van sjefs,” sê Dale-Roberts.

Een van die Test Kitchen se uithaler-geregte is blinissoise  – ’n blini met kappertjie-crème, gebraaide kreefstert in aspiek en kreef-tataki met soethout (liquorice)-poeier.

As jy ’n tafel wil bespreek, sal jy moet spring. Vir aandete sal daar eers teen 2 Januarie ’n tafel beskikbaar wees. Vir middagete kan jy volgende week dalk ’n tafel kry.

Besoek die Test Kitchen-webwerf vir nog inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jax ·

Nee wat kyk, as ek eers ‘n aantal woordeboeke en google moet raadpleeg oor wat presies in die gereg is, weet ek dat die gereg baie min kos op my bord gaan wees vir ‘n prys wat beslis nie gunstig is vir ‘n gesonde banksaldo nie! Ek dink ek het ‘n gesonde “verhouding” met keuse van ‘n restaurant; ek stap nie in ‘n restaurant waar daar nie veel mense in sit nie maar dan weer, sal ek nie na ‘n restaurant gaan waar daar maandelange waglyste is nie. Ons het genoeg wonderlike restaurante wat JanAlleMan se sak ingedagte hou, SA sjefs wat keurige kos berei en uitstekend smaak. Plaaslik pas my perfek!

Lindie ·

Almal is hulpvaardig en verduidelik presies wat in jou gereg is.
Die verwagtig is mos maar deel van die sensasie.
Daar is geregte wat in almal se prysklas val.
Mens bespreek so lank vooruit dat dit maar gerus vir ‘n spesiale geleentheid kan wees. Spesiaal en gesog en besonders is gewaarborg. ‘n Koservaring op eie bodem. Heerlik. Heerlik.
Is ons nie gruwelik bederf in Kaapstad nie? Tot die kosmarkte is top gehalte kos.
Congrats Luke and the Test Kitchen team!

Eliza-beth ·

Lindie jy is SO reg – ek is baie jaloers op julle daar in die Kaap! DA rule, kos is hoogstaande, wonderlike natuurskoon – ALLES. Nie dat ons nou NIKS van dit in Gauteng het nie, maar tog!En ek stem saam met jou, vir ‘n spesiale geleentheid is so ‘n plek die moeite werd, soms wil mens jouself mos bederf. Ek gaan eet eerder ten duurste by so ‘n plek vir iets soos ‘n huweliskherdenking as wat ek ‘n geskenk wil hê, vir my en my wederhelf is so-iets ‘n geskenk aan mekaar! dis hoe ons die ding doen!

Jaco Grobler ·

Ek persoonlik slaan min ag op die opinies van die die massas, Ta’ Grieta maak al heel moontlik soortgelyke disse vir jare lank, maar sy doen dit nie as ‘n professie, of om ‘n lewe daaruit te maak nie, en dus glad nie bekend daarvoor nie. Ek het al die lekkerste kos op die mees onwaarskynlikste plekke teegekom. Nietemin, sou die geleendheid hom voordoen, sal ek virseker “Test Kitchen” probeer; Probeer alles en behou die goeie. Bly om te sien ons word verteenwoordig op die lys, doen so voort Luke en span.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.