Soorte resepte:

Resep: Malvapoeding

Malvapoeding (Foto: Lapa-uitgewers)

Kom ons wees eerlik: ʼn warm en souserige malvapoeding het ʼn sagte plekkie in ons almal se harte (en mae).

Bestanddele:

Poeding

  • 1½ k (375 ml) Clover The One-laevetmelk
  • ¼ k (60 g) Clover Springbok-botter
  • 2 e (30 ml) gladde appelkooskonfyt
  • 2 e (30 ml) koue water
  • 3 e (45 ml) Horlicks-poeier
  • 1 t (5 ml) kakaopoeier
  • 4 t (20 ml) witasyn
  • 2 eiers
  • ¾ k (150 g) suiker
  • 1½ k (210 g) koekmeel
  • 1 t (5 ml) koeksoda
  • 2 t (10 ml) bakpoeier
  • ½ t (2 ml) sout

Sous

  • 1 e (15 ml) Horlicks-poeier, gemeng met
  • 2 e (30 ml) Clover The One-laevetmelk
  • ¾ k (180 ml) Clover-room
  • ½ k (100 g) suiker
  • ¼ k (60 g) Clover Springbok-botter
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode:

Poeding

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn groot 1,5 liter-bakskottel of 10 tot 12 dik kolwyntjiekoppies in ʼn 12-holte-muffinpan.
  2. Meng die melk, botter en konfyt in ʼn kastrol en roer oor lae hitte tot die botter en konfyt gesmelt het.
  3. Meng die water, Horlicks- en kakaopoeier saam in ʼn koppie tot glad.
  4. Gooi die Horlicks-mengsel oor die warm melkmengsel en roer die asyn deur. Hou eenkant.
  5. Klits die eiers en suiker met ʼn elektriese klitser tot lig en donsig.
  6. Sif die oorblywende droë bestanddele saam. Roer die droë mengsel en die melkmengsel om die beurt liggies by die eiermengsel.
  7. Giet die beslag in die voorbereide bakskottel of kolwyntjiekoppies en bak vir 45 tot 55 minute (groot bakskottel) of 20 tot 25 minute (individuele poedings). Die poeding is gaar wanneer ʼn toetspen skoon uit die poeding kom.

Sous

  1. Meng al die bestanddele, behalwe die vanieljegeursel, in ʼn swaarboomkastrolletjie en prut oor lae hitte vir 3 tot 4 minute of tot die suiker gesmelt het.
  2. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by. Verwyder die poeding uit die oond en prik die bokant met ʼn vurk. Giet die warm sous oor die poeding en sit met room, vla of roomys voor.

Bron: Gunsteling Poedings

Uitgewer: Lapa-uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elizabeth ·

Nee wat, heeltemal te veel bestanddele! Regte malvapoeding het die sjokolade of horlicks in nie.

Ilze ·

Stem saam met Elizabeth. Lyk soos ‘n doodgewone sjokolade poeding. Malva poeding kry brandewyn in die stroop anders is dit ‘n Jan Ellis Poeding

Cara ·

Stem saam. hopeloos te veel bestandele. En klink eerder na n ander tipe asyn poeding as wat dit n malva poeding is. My malva poeding resep is maklik en heerlik!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.