Soorte resepte:

[Resep] Verruklike Kersfees-spyskaart

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Die feestyd is sinoniem met spesiale etes, mooi gedekte tafels en samesyn. ʼn Spesiale en selfs spoggerige Kers- of feesete hoef gelukkig nie ure lange werk in die kombuis te verg nie.

Hierdie spyskaart van Heleen Meyer, bekende gesig op Die Groot Ontbyt en ʼn koskonsultant wat mense graag aanmoedig om lekker en gesonder te eet, is perfek vir Kersfees. Haar resepte is geurig, maklik om te maak en daar is altyd iets vir elkeen se smaak.

Die spyskaart

  • Perskes met dukkah, kaas en basiliekruid (voorgereg)
  • Ontbeende lamsboud oor die kole
  • Drie souse vir aartappelslaai
  • Groenslaai en vrugte soos waatlemoen
  • Bessie-pavlova

Perskes met dukkah, kaas en basiliekruid

Sny perskes of nektariens in wiggies en plaas op ʼn groot bord met blokkies mozzarella-kaas (of gebruik die kleiner balletjies mozzarella, bekend as boccoccini, vir ʼn spesiale geur en effek). Sny komkommer in dik skywe en pak saam met die vrugte en basiliekruidblare op die bord. Strooi dukkah of geroosterde amandels oor en sit voor met olyf- of avokado-olie en balsamiese asyn of ʼn balsamiese reduksie. Maak vir elkeen hul eie slaaitjie of ryg die bestanddele op kebabstokkies. Bedruip met olie en asyn of die reduksie en sprinkel dukkah oor net voor dit voorgesit word.

Ontbeende lamsboud oor die kole

Resep aangepas uit Onthoukos
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 1,5 kg lamsboud, ontbeen en oortollige vet verwyder (vra jou slagter om dit te doen)
  • 5 groot knoffelhuisies, in repies gesny
  • 6 takkies roosmaryn, blare gestroop
  • 8 takkies tiemie, blare gestroop
  • fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 30-45 ml (2-3 e) olyf- of avokado-olie
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Vou die vleis oop om min of meer in ’n eweredige laag te lê. Indien nodig, maak versigtig een of twee snitte om enige dikker dele effens platter te kan druk.
  2. Plaas knoffel, kruie en suurlemoenskil en -sap in ’n vysel. Maak met ’n stamper fyn om ’n growwe mengsel te vorm. (Of kap knoffel, kruie en suurlemoenskil alles baie fyn met ʼn skerp mes en roer die suurlemoensap by.)
  3. Meng die knoffel met die olie en smeer oral oor die lamsboud. Plaas in ’n groot mengbak, bedek en laat oornag (of minstens 2 uur) in die yskas marineer. Moenie dit met sout en peper geur nie.
  4. Berei die ketelbraai met ongeveer 30 brikette in elke kolehouer. Die kole is gereed sodra ’n dun lagie as op die brikette sigbaar is.
  5. Geur boud aan weerskante met sout en peper. Verf met ’n bietjie ekstra olie en plaas plat op die rooster, maar oor indirekte hitte en dus nie direk bo-oor die kole nie. Plaas deksel op en hou ventilasiegate bo en onder oop.
  6. Braai vir 45 minute tot 1 uur vir medium gaar of tot die gaarheid van jou keuse, maar verkieslik nog effens pienk aan die binnekant.
  7. Laat die vleis vir 10 minute rus voor dit gesny word om die verlies van die vleissappe te beperk. Sit warm of teen kamertemperatuur voor met jou gunstelingbykosse of slaaie.

Wenke:

  • Braai die vleis oor matige kole in ’n toeklap-rooster of rooster dit teen 180 °C in die oond. Dit neem min of meer net so lank as in die ketelbraai. Bedek die vleis met foelie vir die eerste gedeelte van die gaarmaaktyd in die oond.
  • Gaarmaaktye as ’n riglyn: vir medium-gaar, vleis aan die been, 20 minute vir elke 500 g, plus ’n ekstra 20 minute. Medium-gaar, ontbeende vleis: 15 minute per 500 g, plus ʼn ekstra 15 minute.
  • Sny altyd ’n boud of ander groot vleissnit teen die grein van die vleis, anders kan dit taai voorkom of baie frummelrig wees. Gebruik ’n gladdelem-mes vir hierdie doel.
  • Oorskiet-lamsvleis is perfek vir ’n ligte slaai die volgende dag of gebruik dit op toebroodjies.

Drie souse vir aartappelslaai 

Resep uit Maak vyf
Lewer 4 – 6 porsies

Almal het húl manier om aartappelslaai te maak en hou boonop van verskillende bestanddele daarin. Hier is drie verskillende souse waaruit jy kan kies en al drie sal heerlik wees met die lamsvleis. Jy kan nog steeds agurkies, hardgekookte eiers of ui byvoeg as jou gesin daarvan hou. Ek hou van ’n aartappelslaai wat met klein aartappeltjies in die skil gemaak is.

Bestanddele:

  • 750 g jongaartappeltjies in die skil

    Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

    Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

  • sout en peper
  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

Suurroom-en-dillesous

  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 125 ml (½ k) suurroom
  • 30 ml (2 e) melk
  • 60 ml (¼ k) grofgekapte vars dille

Kerriejogurtsous

  • 125 ml (½ k) mayonnaise van goeie gehalte
  • 125 ml (½ k) ongegeurde jogurt
  • 2,5 ml (½ t) appelkooskonfyt of heuning
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier
  • 45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare

Parmesaan-en-suurlemoensous

  • 45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 30 ml (2 e) gekapte vars grasuie
  • 30 ml (2 e) fyngerasperde parmesaan- of wit cheddarkaas

Metode:

  1. Plaas jongaartappeltjies met ’n bietjie water en ’n knippie sout in ’n kastrol. Verhit oor matige hitte tot kookpunt, stel die hitte laer en prut met die deksel op vir 15-20 minute of tot net sag.
  2. Dreineer die aartappels en plaas in ’n groot mengbak. Giet die olie oor en skud die bak om die aartappeltjies met olie te bedek. Dit verleen ’n heerlike geur. Laat dit afkoel en sny in die helfte.
  3. Kies die sous wat by die res van jou maaltyd gaan pas en meng die bestanddele saam. Geur na smaak. Meng die sous met die aartappels. Dit kan teen kamertemperatuur of yskoud voorgesit word.

Wenke:

  • Roketblare, gemarineerde songedroogde tamaties, olywe, fetakaas of vars origanum en roosmaryn is ook heerlik saam met die parmesaansous.
  • Toets die aartappels met ’n toetspen of skerp messie, om ’n so klein as moontlike snit daarin te maak. ’n Groot snit laat die aartappel te veel water absorbeer en oopbars.
  • Moenie gaar aartappels in die water los nie, dreineer dit dadelik. Meng ’n aartappelslaai met die agterkant van ’n houtlepel of sommer met jou hand, om te keer dat jy die aartappels stukkend steek.

Groenslaai en vrugte

Berei ’n groenslaai voor met vars bestanddele soos appel, druiwe, komkommer en ʼn lekker verskeidenheid slaaiblare en selfs spinasieblare. Blansjeer broccoli of groenboontjies vir nog tekstuur en rond die slaai af met ʼn kaas van jou keuse. Feta is lekker en selfs bloukaas is heerlik in ʼn groenslaai. Geroosterde sonneblomsaad of neute is ook altyd ʼn wenner.

Sny waatlemoen in skywe of blokkies en sit dit yskoud as nog ʼn slaai voor. As jy iets interessanter daarmee wil doen, skeur ʼn handvol kruisementblare in growwe stukkies en strooi oor blokkies waatlemoen – dis ʼn heerlike geurkombinasie en perfek met lamsvleis.

Bessie-pavlova 

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Bessie-pavlova. Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Resep uit Maak vyf
Lewer 8 porsies

ʼn Nagereg van die boonste rak! Om ’n pavlova te maak skrik die meeste mense af. Hierdie resep is egter maklik en jy hoef nie ’n perfekte pavlova te bak nie. Die Griekse jogurt en crème fraîche maak dit ’n besondere bederf vir ’n spesiale geleentheid.

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) Griekse jogurt
  • 250 ml (1 k) crème fraîche (of suurroom)
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
  • 4 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 10 ml (2 t) suurlemoensap
  • 300 g bessies van jou keuse, soos bloubessies, frambose en aarbeie
  • vars kruisement

Metode:

  1. Meng die jogurt en crème fraîche en roer die vanieljesaadjies deur. Voeg die peul by die mengsel en verkoel tot benodig.
  2. Voorverhit intussen die oond tot 130 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit. Smeer ’n bietjie olie liggies in ’n groot sirkel op die papier.
  3. Giet die eierwitte, strooisuiker, vanieljegeursel, suurlemoenskil en -sap in ’n groot glasbak. Klits met ’n elektriese klitser vir ongeveer 10 minute of tot stywe punte vorm. Die eiers moet lig en donsig word en die tekstuur van malvalekker hê. Moenie te ver klits nie, dan word dit droog.
  4. Skep die mengsel op die bakplaat en smeer liggies in ’n 24 cm-sirkel. Dit hoef nie perfek rond te wees nie.
  5. Bak vir 1 uur of tot net goudbruin en gestol. Skakel die oond af en laat die pavlova heeltemal in die oond afkoel. (Dit kan reeds die vorige dag gedoen word.)
  6. Verwyder die vanieljepeul en smeer die jogurtmengsel egalig oor die pavlova en rangskik die bessies bo-op. Versier met kruisementblare en sit dadelik voor.

Wenke:

  • Enige ander vrugte van jou keuse kan gebruik word – selfs vye, granaatpitte en druiwe.
  • Om eierwitte styf te klits: maak seker dat die mengbak baie skoon en droog is. Enige vetterigheid sal verhoed dat die eiers styf klits. Gebruik ’n glas- of vlekvryestaalmengbak in plaas van ’n plastiek-een. Maak ook seker dat die klitser goed skoon is.
  • Eiers teen kamertemperatuur klits gouer styf as eiers wat direk uit die yskas kom. Eierwitte wat bevries was, klits maklik tot ’n hoë volume.
  • Gebruik die eiergele vir roereier of omelette.

As jy nog van Heleen se resepte wil maak, belê gerus in ʼn eksemplaar van haar jongste resepteboek, Maak vyf – met ʼn verskeidenheid bekende bestanddele waarvoor sy elke keer vyf resepte gee. Bestel sommer vandag nog jou spesiaal getekende eksemplaar by [email protected]. Besoek Heleen se Facebook-blad of webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. ·

Baie beter vir warm SA! Gelukkig tog nie simpel kalkoen (so lelike voël – wie wil dit eet??) en die ewige ou ingevoerde spyskaarte met warm poedings en goed nie. Klink heerlik!

Hermien Truter ·

Dit was soos ‘n antwoord op gebed!! Het my ‘n heerlike idee gegee vir Kersspyskaart. Wonderlik dat daar mense is met skitterende talente. 1000 dankies! Seenwense! ???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.