Soorte resepte:

Ons koffiepad: Van boeretroos tot macchiato

Lani Snyman, uitvoerende beampte verantwoordelik vir kliëntediens by Ciro. Foto: Maroela Media

Lani Snyman, uitvoerende beampte verantwoordelik vir kliëntediens by Ciro. Foto: Maroela Media

Ons is so opgewonde om Koffiedag op 29 September te vier, ons het vandag reeds begin, en vier dit sommer die hele week lank! Hou Maroela Media dop vir unieke resepte en interessante artikels oor dié wondermiddel.

Van boeretroos tot macchiato

Die koffiebedryf in Suid-Afika het die afgelope drie jaar ontplof. Suid-Afrikaanse baristas ding mee en presteer internasionaal, en nuwe koffiewinkels met deeglik opgeleide baristas wat weet hoe om ʼn goeie koppie koffie te bedien, maak weekliks oor die hele land oop. As jy nog nie ʼn vurige koffieliefhebber is nie, is dit tyd dat jy jou sokkies optrek.

Die Suid-Afrikaanse koffiebedryf

“Die koffiebedryf in Suid-Afrika het sowat tien jaar gelede behoorlik vlamgevat met ʼn inspuiting van internasionale invloede, en die nuutste tegnieke in koffiebrouerye wat hier in gebruik geneem is.”

Só vertel Lani Snyman, uitvoerende beampte verantwoordelik vir kliëntediens by Ciro, en selferkende koffieverslaafde en -puris.

Koffie het inderdaad ʼn lang pad gekom sedert ons oupagrootjies tydens die oorlog in die veld patats en boomwortels uitgegrawe het om ʼn blikbeker boeretroos mee te brou. Van daar af het ons koffie draaie gemaak by moerkoffie op die stoof, perkoleermasjiene in elke huis en – behoede ons – kitskoffie in poeiervorm.

Met die totstandkoming van die Specialty Coffee Association of South Africa (SCASA) ʼn paar jaar gelede is ʼn platform geskep vir plaaslike baristas om aan internasionale koffiekompetisies deel te neem, en daarna het die plaaslike koffiebedryf vlerke gekry.

“Mense in Suid-Afrika begin al meer verskillende koffiebroumetodes tuis gebruik, en raak gemaklik daarmee om bone te koop en hul eie koffie te maal,” sê Lani. “Ons sien ál meer dat mense spesialiskoffie in heelboon-formaat bo gemaalde en veral kitskoffie verkies, te danke aan die geurige smaak en aroma wat suiwer koffie van goeie gehalte jou bied. Boonop het ons land ook onlangs een van die grootste koffiewinkelgroepe wêreldwyd, Starbucks, verwelkom.”

Dis nie net individue wat regop sit oor (en van) dié oplewing in die koffiebedryf nie. “Innovering met volhoubare koffieskemas word aangegryp deur groot hotelgroepe soos die Protea-hotelgroep, wat ‘Fair Trade’-koffie aanbied, en ook glo en belê in goeie opleiding vir hul baristas deur nasionale baristakompetisies aan te bied,” vertel sy.

Koffieverpakking: Verstaan wat daar staan

Die verpakking van jou koffiebone of gemaalde koffie bevat ʼn paar terme wat jy moet verstaan om ʼn keuse te maak wat in jou smaak val:

  • Arabica, Robusta of ʼn mengsel: Daar is twee hoofspesies koffiebone in die mark beskikbaar: Coffea Arabica en Coffea Canephora (of Robusta). Arabica is oor die algemeen die boon van die twee wat ʼn meer komplekse smaak het. Robusta bevat meer kafeïen en het ʼn bitter smaak. Arabica bevat weer baie meer lipiede en suiker as Robusta, wat dit ʼn natuurlike soet smaak gee. Robusta is meer gehard en makliker om te verbou (die hoë kafeïenvlakke daarin maak dit giftig vir insekte), en is dus goedkoper as Arabica. As jy ʼn goeie koppie koffie bestel, is dit waarskynlik van 100% Arabica-bone gemaak. ʼn Arabica-boon bevat 1,5% kafeïen, teenoor die 2,7% in Robusta.
  • Donker, medium of lig gerooster: Dit verwys na hoe lank die koffie gerooster is, en is een van die belangrikste aspekte wat die smaak van die koffie beïnvloed. Groen koffiebone is groen en hard, met byna geen waarneembare geur nie. Die roosterproses verander dit in die geurige bone wat ons as geroosterde koffie ken. Lig geroosterde koffie het die hoogste suurinhoud, en behou die meeste van die karakter van die oorsprong van die boon. Die bone is ligbruin en het nie die kenmerkende olierige voorkoms van donkerder geroosterde bone nie. Medium geroosterde koffie het ʼn goeie balans tussen suurheid en volrondheid. Die koffie se natuurlike eienskappe begin plek maak vir die geure en smake wat as gevolg van die roosterproses ontwikkel. Donker geroosterde bone is donkerbruin en blink – die natuurlike olies in die boon kom in die roosterproses na buite. Die koffie proe volrond en min van die koffie se oorspronklike smaak bly behoue. Donker geroosterde bone word meestal vir espresso gebruik.

Gemaal of nie gemaal nie?

Heel bone is altyd beter! Die geur van die koffie begin verslaan binne 15 minute nadat dit gemaal is. As jy nie ʼn koffiemaler het nie, kan jy die volgende doen om jou gemaalde koffie so vars moontlik te hou:

  • Moenie meer as ʼn week se gemaalde koffie op ʼn slag koop nie.
  • Hou die gemaalde koffie in ʼn lugdigte houer, binne-in ʼn kas.
  • Bêre die koffie weg van geurmiddels en speserye wat die geur kan beïnvloed.

“Twee suiker, asseblief”

ʼn Koffiepuris sal jou beslis skeef aankyk as jy suiker in jou koffie gooi. En as iemand vir jou ʼn goeie (en ons bedoel góéie) cappuccino of Americano bedien, gaan jy waarskynlik vind dat die koffie nie te bitter of suur is nie, en dat die natuurlike soet nasmaak daarin vir jou voldoende is sonder dat jy suiker hoef by te voeg. As jy suiker móét byvoeg, sorg maar dat jy dit vinnig doen terwyl die barista anderkant toe kyk – hoewel die deurmekaar geklitste latte-kuns (latte is Italiaans vir melk) jou waarskynlik sal weggee …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

100% korrek. Wanneer koffie reg bedien word dan is dit nie nodig vir suiker nie. Wanneer die koffie jou tong brand net nadat dit bedien word is beteken dit ook al die geur in die koffie is verbrand. Ek vertrou nie enige plek met koffie nie, maar die koffie winkels in die Kaap weet wat hulle doen. En met dit bedoel ek nou nie Mug n Bean nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.