Soorte resepte:

Onthouboek vol resepte en staaltjies

Die Erfenisstigting se eerste resepteboek, Deur dik en dun: Lekker kos en stories uit ou Pretoria, geskryf deur die bestuurder van die museumversameling en erfenisbewarings-projekte, Riana Mulder, is propvol smullekker koesterkos, interessante vertellinge en deeglik nagevorste feite oor ou Pretoria.

Mulder het vir 18 maande lank intensief navorsing gedoen en verskeie bronne geraadpleeg – die indrukwekkende bibliografie getuig hiervan. Sy haal dan ook verskeie van hierdie geskiedkundige bronne in die teks aan  – ek het die publikasies (bv. E.J. Dijkman se Di Suid-Afrikaanse kook-, koek- en resepte boek, die eerste resepteboek in Afrikaans wat in 1891 deur die Paarlse Drukpers uitgegee is) veral interessant gevind omdat ek voorheen onbewus was van hulle bestaan.

Mulder moes onder meer inligting opspoor om “die skakel tussen die kultuurgeskiedenis van Pretoria en die resepteboek te bewerkstellig”. Die resultaat is ’n unieke geskiedenisboek met 93 spesiaal uitgesoekte, handige én interessante resepte “wat óf by die tydperk, óf by die geleentheid ter sprake sou pas”. Die boek kan eweneens beskryf word as ’n resepteboek wat geskiedkundige inligting op ’n toeganklike en gesellige wyse oordra. Mulder sê: “Dit is moeilik om te besluit of dit ’n geskiedenisboek of ’n resepteboek is – dis ’n kombinasie. My hoofdoel was om ’n boek te skep wat gebruik kan word, bespreek kan word, gesellig in die kombuis kan lê en lekker kuier kan aanmoedig.”

Vir die leser lê die publikasie se besondere aantrekkingskrag dan ook daarin dat jy nie net heerlike en maklike geregte daaruit kan kies om voor te berei nie, maar jy kan jou gaste behoorlik vergas op die boeiende staaltjies in die boek. Ek het my byvoorbeeld verstom aan ’n foto van ’n Pretoria-straattoneel ná ’n lekker reënbui in die 1890’s – verbeel jou die spanne osse wat die kreunende ossewaens gly-gly deur die breë modderstraat trek! Nóg ’n paar kosbare foto’s wat my aandag gevang het, is dié van die 17-jarige Elsabie (Elsa) Nel. Haar ouers was lede van die Ossewabrandwag en die owerhede het vermoed dat Elsa geweet het waar twee manne waarna hulle gesoek het, versteek was. Elsa is in hegtenis geneem, aangekla en opgesluit, maar het nie haar mede-Afrikaners verraai nie. Met haar vrylating uit die tronk het duisende vroue haar ingewag en is sy in ’n triomfantelike optog deur Pretoria se strate gelei. Sy was die heldin van die volk en die simbool van die versetbeweging.

Deur dik en dun bevat vyf hoofstukke, naamlik Die voortyd, Die dorp se eerste jare, Victoria-Pretoria, Oom Paul en sy mense, Na die oorlog en Vroue van Formaat. Mulder het probeer om brokkies geskiedenis met kos te verbind deur middel van treffende ‘koskassies’. Hierdie koskassies is dan opgevolg met ’n wye verskeidenheid ou en moderne resepte. Een van die koskassies is dan ook getiteld Leipoldt oor wildsvleis. “Die bekende skrywer C. Louis Leipoldt was ’n entoesiastiese en kundige kok, en het baie te sê gehad oor die regte gaarmaakmetodes vir wildsvleis.” Sy metode om ’n sappige wildsboud gaar te maak, verskyn in die boek. Nóg ’n koskassie is getiteld Kinderbederfies en dit word opgevolg met watertandresepte soos tuisgemaakte roomys, suurklontjies en taai tameletjie.

Die koskassie, ’n Engelsman vertel van sy besoek aan Pretoria, verwys na die Engelsman E.F. Sandeman wat in 1878 vir agt maande lank deur die land gereis het. Hy het dan ook sy avonture geboekstaaf in Eight months in an on ox waggon wat in 1880 gepubliseer is. Hy het onder meer die verjaarsdag van koningin Victoria op 24 Mei in Pretoria gevier deur ’n bal en ’n dinee by te woon wat deur die goewerneur aangebied is. Van die resepte wat dié koskassie opvolg, is die heerlikste groentesop, tradisionele Engelse biefstuk-en-niertjie-pastei, gemarineerde lamsboud, Yorkshirepoedings vir twee en gebakte vla.

My gunstelingkoskassie, ’n Huisvrou se herinneringe aan haar lewe in jong Pretoria, handel oor die herinneringe van mev. H. Jooste wat in 1961 in die Pretoriana verskyn het. Sy het as jong bruid in 1904 in Pretoria aangekom. Een van haar vertellinge handel oor hoe sy as jong kind die plaaslike bakker op heterdaad betrap het: “ … daar sien ek mnr. Boerstra besig om in ’n groot hout bak deeg met die kaalvoet te trap. Ek moes dit nie vir my moeder vertel het nie, want van toe af moes ek ver van die huis af gaan om brood te koop. Dit moes ek by Heathers se bakkery naby Kerkplein gaan doen.”[1]

Een van die interessante resepte in Deur dik en dun is sjef Moshe Basson se sprinkaan-krakelinge. Die destydse sendeling by Kuruman, Robert Moffat, vertel in die publikasie, R. Moffat, Missionary Labours and Scenes in Southern Africa, hoe hy, op sy eerste besoek aan Mzilikazi (wat hom vir ’n wyle in die omgewing gevestig het waar Pretoria later gebou sou word nadat hy en sy volgelinge voor Shaka uit Zoeloeland moes vlug) in ’n reuse-wildevyeboom se takke saam met ’n klompie vlugtelinge aan sprinkane gesmul het. Hierdie voortvlugtiges was van die volke wat deur die Matabele uit hulle dorpies verjaag is en noodgedwonge moes oorleef op veldkos. Moffat self is egter baie hartlik ontvang en onthaal deur Mzilikazi en die Matabele-gemeenskap.

Mulder stel die leser ook bekend aan verskeie bekende persone wat deur die jare Pretoria hulle tuiste gemaak het. Dit sluit in Pretoria se hartseerseun oftewel Eugène Marais, ’n gebore en getoë Pretorianer wat bekendheid verwerf het as skrywer en naturalis. Sy gedig Winternag word steeds as “een van die belangrikste gedigte beskou wat ooit in Afrikaans geskryf is”. President Paul Kruger, wat vier termyne as president uitgedien het, was bekend om sy kwinkslae. Hy is glo gereeld in die strate in en om Pretoria in sy spoggerige staatskoets opgemerk. Toe John Hess in Januarie 1897 die eerste motor in Suid-Afrika aan die president gewys het en hom genooi het vir ’n toetsrit, het die president glo gesê: “Nee dankie, netnou blaf ’n hond en dan skrik die ding en gooi my af!”[2] Emily Hobhouse het Pretoria ook dikwels besoek ná die Anglo-Boereoorlog om “armoede te verlig deur die stigting van spin-en weefskole vir jong vroue”.[3]

Van die minder bekende, maar tog interessante en selfs geliefde inwoners, was mense soos Albert Brodwick, ’n platjie en digter aan wie die eerste kroeg behoort het, en Lang Piet Marais wat nie net ’n mynmaatskappy gestig het nie, maar ook veilings op die plein gehou het. Dan was daar ook die formidabele Mabel Malherbe, eienaar en redakteur van Die Boerevrou, die heel eerste Afrikaanse Vrouetydskrif. Moet ook nie vergeet van ou Moes nie – ou Pretoria se gewildste Ridder van die Grootpad. Dis reeds hý wat te kenne gegee het dat muskiete hom nie snags pla nie, want “in die voornag is ek te dronk, en in die na-nag is hulle.”[4]

Mulder vertel meer oor die bewoners van die streek en ook hoe die wêreld gelyk het vóór die ou dorp Pretoria gebou is. Haar interessante aanbieding van die geskiedenis en die wyse waarop sy kos by haar vertellinge betrek, maak van hierdie boek in my oë ’n waardevolle versamelaarsitem. As jy deur die boek blaai, water jou mond vir die heerlike geregte en raak jy sommer nostalgies oor die goeie ou dae. Van die kwajongstreke en kattekwaad wat die kinders van ou Pretoria aangevang het, tot nagmaalvieringe, pieknieks en swierige buitelug-onthale en die uiteindelike beleg van Pretoria vanaf Desember 1880 tot Maart 1881– dis moeilik om dié boek neer te sit as jy eers daaraan begin lees. Mulder verwys ook na die Nasionale Dieretuin en geskiedkundige geboue soos bv. die Uniegebou, die Pretoriase Stadsaal en die elegante Melrose-huis. Sy vertel meer oor die destydse vervoermiddele soos die poskoetse wat pos en passasiers vervoer het en deur perde, muile en selfs sebras getrek is. Die swaarder goedere is per ossewa vervoer. Later het die spoorlyn en treine gekom.

Ek noem graag nog ’n paar van die heerlike resepte wat in Deur dik en dun aangetref word: beesvleisbredie met kluitjies, outydse bonesoep (sop), vetkoek, boerebrood, pampoenkoekies met ’n kaneelstropie, outydse soetkoekies, jêmtertjies, gebakte gemmerpatats, souskluitjies, growwe karringmelkbeskuit, spekulaas, hoenderlewerpatee, koeksisters, melksnysels, bruinpoeding en geurige herderspastei. Mulder het moderne bestanddele gebruik vir sommige van die resepte om te verseker dat dit geredelik beskikbaar is.

Ek gaan my kopie van hierdie merkwaardige boek beslis baie mooi oppas om eendag aan my nageslag na te laat. Ek sou egter verkies het dat die boek ’n hardeband omslag moes hê, reeds omdat ek voorsien dat dit ’n boek is wat ek baie gaan hanteer – hetsy om na die pragtige versameling foto’s te kyk, ’n resep op te soek of ’n staaltjie uit vervloë dae na te slaan. As jy ’n geesdriftige kos-entoesias met ’n liefde vir geskiedenis is, is hierdie boek vir jou bedoel! Mulder verdien ’n pluimpie vir hierdie werk wat ek as gesaghebbend beskou. Dis baie beslis ’n aanwins vir die Afrikanervolk en andere wat bande het met Pretoria.

Deur dik en dun: Lekker kos en stories uit ou Pretoria beslaan 226 bladsye en kan hier bestel word.

[1] R. Swanepoel, Pretoria Geselsbrief, Januarie 2004

[2] “Toeka se dae”, in Die Bronberger, 28 Februarie 2013

[3] Nieuwe Tilburgsche Courant, Dinsdag 27 Augustus 1907

[4] R. Swanepoel, Pretoria Geselsbrief, Augusts 2007

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke, Koolstoof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae