Soorte resepte:

Op soek na die land se lekkerste melktert

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Daar is min dinge wat so lekker is soos ʼn melktert, maar dié gebak staan altyd in die skadu van ander soos die koeksister. Weg-tydskrif het ongeveer twee jaar gelede besluit dat dié nederige tert ʼn bietjie meer erkenning moet kry, en só is Melktertdag gebore. Om volgende jaar se Melktertdag (op 27 Februarie) te vier word daar nou gesoek na die beste melktertbakster (of bakker).

Enige amateurbakker is welkom om sy of haar “wenresep” na die Weg-redaksie te stuur met ʼn oulike foto van jou en jou melktert en ʼn kort motivering waarom jou melktert die beste is. Daar sal met ʼn kortlys van bakkers telefoniese onderhoude gevoer word en na aanleiding van dié onderhoude sal vyf finaliste gekies word. Dié vyf finaliste sal tuis besoek word waar die melktert die finale toets moet deurstaan. Of jou resep nou eg tradisioneel is en of dit ʼn moderne kinkel het, hierdie kompetisie is vir jou.

Groot pryse soos Kenwood-kombuistoebehore en Spree-geskenkbewyse is op die spel, maar dis waarskynlik die titel “Top-tertbakster” wat jou aan die bak sal kry.

Die kompetisie is vir nog ʼn week aan die gang en alle resepte moet voor 2 November ingestuur word.

Meer besonderhede oor die kompetisie is in die Oktober- en November-uitgawe van Weg en jy kan gerus ook op Facebook gaan kyk.

Luister na die podsending waarom Weg met dié kompetisie begin het.

So skryf jy in:

Stuur die volgende inligting om vir ’n onderhoud te kwalifiseer:

  • Jou naam en van
  • ’n landlyn- en of selfoonnommer
  • ’n e-posadres (opsioneel)
  • jou melktertresep
  • ’n foto van jou en jou melktert
  • ’n kort motivering (maksimum 200 woorde) wat kan oortuig dat a) jou melktert die beste in die land is, en b) jy regtig ’n diep liefde vir melktert het en daarom die titel van Melktertambassadeur verdien.

Stuur jou inskrywing na [email protected] (Belangrik: Merk die onderwerpveld met “TopTert”) of pos dit na TopTert, Weg, Posbus 740, Kaapstad, 8000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Daar is net een plek waar jy regte melktert kry en dit is De Vlamming in Mosselbaai. Punt.

Debs ·

De Flamming in Mosselbaai – skryf in asseblief.. Julle melktert is ‘N MELKTERT …. so moet ‘n melktert mos proe……. Die beste ooit.
Oud Mosselbaaier – Nou Gautenger

Eliza-beth ·

Kan ek nie maar ‘n “judge” kom wees in die kompetisie nie – ek sal so proeëry darem vreeslik geniet ; D!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.