Soorte resepte:

Pak só ʼn gesonde kosblik

Izelle Hoffman (Foto: Verskaf)

Deur: Janie Monsieur

’n Jong kind is totaal afhanklik van sy ouers wanneer dit kom by die kos wat hy of sy eet.

Die onus rus dus op die ouer om seker te maak dat kinders gesond is en gesonde eetgewoontes kweek. Om ʼn gesonde kosblik te pak is nie altyd ʼn maklike taak nie, en daarom is ons hier om te help.

Die bekende leefstylsjef Izelle Hoffman het gesê ouers het ʼn groot verantwoordelikheid wanneer dit by kinders se gesondheid kom.

“Dit is ʼn ouer se verantwoordelikheid om seker te maak hul kinders eet die regte goed, ek kan nie genoeg klem daarop sit nie. Groente eet moet wees soos om tande te borsel in die oggend. Jy moet kinders van kleins af skool om die regte goed te eet,” het Hoffman gesê.

“Tot en met twee jaar oud is ʼn kind óf honger óf hy is nie honger nie. Hy weet nie wat hy eet nie, en hy kan dit ook nie vergelyk met iets anders nie. As hy honger is, gaan hy dit eet. En dit is waar die verantwoordelikheid by die ouer lê om goeie, gesonde beginsels van kleins af te kweek.”

Hoffman sê daar is baie druk op ouers om ʼn lekker kosblik te pak, omdat kinders in hul maatjies se kosblikke kyk en dan dieselfde as die een langs hom wil hê. Hoffman stel voor dat jy groente op ʼn lekkerder manier voorberei vir ʼn kosblik.

“ʼn Kind is ʼn snaakse ding, as jy vir ʼn kind sê hy moet sy brokkoli eet voordat hy lekkergoed kan kry, gaan hy sekerlik die brokkoli iewers op die speelgrond weggooi.”

“Mens kan byvoorbeeld patat-bruintjies maak. Patat is ʼn natuurlike anti-inflammatoriese groente, en as jy dit op ʼn sekere manier gaarmaak, kan jy dit baie lekker maak.” Hoffman se patat-bruintjie-resep kan hier gekry word.

Hoffman sê ʼn kosblik hoef nie ongesond te wees nie.

Patat-sjokolade-bruintjies (Foto: Verskaf)

“Klein frittatas is baie lekker om vir kinders in te pak skool toe. Dit lyk ook lekker! Biltong en amandels is ook baie goed. Ek sal voorstel dat daar altyd ʼn vleisie in die kosblik is. ʼn Gebraaide hoenderborsie wat in repies gesny is, is baie lekker en nét so lekker koud,” het sy gesê.

“Jy kan ook bietjie druiwe insit, maar te veel vrugte is nie goed nie, want dit het baie suiker in. Ek dink baie kinders is hiperaktief omdat hulle onbewustelik verskriklik baie suiker eet, en ouers moet bewus raak daarvan. Enige vrug wat ʼn vitamien C-inhoud het, soos byvoorbeeld lemoene of nartjies, is goed, veral nou in die winter.”

Hoffman het gesê as jy ʼn broodjie wil inpak, is dit beter om eerder ʼn lae GI-broodjie te koop, of om volgraan- of suurdeegbroodjies te gebruik.

“Brood op die rakke het deesdae so baie verskillende bestanddele in, en brood is veronderstel om slegs vier bestanddele te bevat. As jy die plastiekpakkie waarin die brood verkoop word gaan lees, is daar eintlik baie bestanddele in. Ek dink dit is beter om terug te gaan na die basiese manier van kosmaak,” het sy gesê.

Moet ook nie vir jou kinders te veel suiwel inpak nie, want dit kan veral in die winter probleme veroorsaak.

“Mense pak maklik te veel suiwel, want daar is jogurt en ʼn kasie en dalk nog suiwel in die kosblik, maar baie kinders kry sinusprobleme en ʼn loopneus, veral nou in die winter. En dan is dit baie keer al die suiwel wat die kind geëet het.”

“Probeer net altyd een stap in die regte rigting doen, dan is jy alreeds een stap verder,” het Hoffman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carina ·

Fritattas, patat bruintjies – (het julle daardie duur bestandele gesien?), biltong, neute – genade, julle praat van baie duur eetgoed hier. Niemand kan bekostig om elke dag sulke goed in te pak nie. En ek het my kind kleintyd alles onder die son gevoer, maar vandat sy kan praat, is sy vreeslik vol nonsens met kos. Sy eet nie hoender nie, hou van groente maar dis nie iets wat ek in ‘n kosblik kan pak nie, want sy eet dit net as dit warm is. Sy eet nie jogurt of kaas nie, en hou nie van brood nie, dit kom net so terug. Ek bak volgraan muffins en dit mag dalk halfpad geeet word. Sy eet geen ontbyt pap nie, en meeste van die goed op die rak is net ‘n klomp gemors met baie suiker in elk geval. Sy leef letterlik van lug. So wat bly oor?

SNEL ·

Goeie aarde, Carien, my senuwees sal klaar wees as my kind so swak eet. Jou kind klink of sy n vegetariëer of n vegan wil wees. Sjoe ja, dis moeilik. Gesonde kos is beslis duur. Daai ding van dit werk jou dieselfde uit is n leuen. Die naaste aan vars bly die beste en om weg te bly van bewerkte goed, maar ook nie altyd maklik nie. Ek dink ook nie daai patat bruintjies gaan my gewild maak in die huis nie, dis soos om jou tande in n choc chip cookie te slaan en met skok agter te kom dis oats and raisins, gaan nie vlieg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.