Soorte resepte:

Patat en aartappel: Watter een is gesonder?

Izelle Hoffman (Foto: Verskaf)

Deur: Janie Monsieur

Daar is min dinge so lekker soos om weg te lê aan ʼn groot porsie warm aartappelskyfies met sout en asyn oor. Deesdae het baie restaurante egter die opsie op hul spyskaart dat jy jou aartappelskyfies met patatskyfies kan vervang, om sodoende ʼn “gesonder” opsie te eet.

Maar is patat regtig gesonder as aartappel? Maroela Media het met die bekende leefstylsjef Izelle Hoffman oor hierdie onderwerp gesels.

Terwyl aartappel en patat amper dieselfde hoeveelheid kalorieë per porsie bevat, is daar tog ander faktore wat die een beter as die ander maak.

“Daar is eintlik ʼn baie groot verskil tussen patat en aartappel. Patat het ʼn lae glukemiese indeks (GI) en aartappel ʼn hoë GI. Lae-GI-kosse soos patat sal nie jou bloedsuikervlakke skielik die hoogte in laat skiet en dit dan weer skielik laat val nie, maar aartappel kan dit wel doen. Patat is ʼn beter gehalte koolhidraat as aartappel as jy gesteld is op jou gesondheid en hoe dit jou liggaam affekteer, maar aartappel is steeds nie sleg nie. Aartappel is steeds beter as ʼn stuk witbrood,” het Hoffman gesê.

Hoffman het gesê wanneer dit by skyfies in ʼn restaurant kom, is dit eintlik nie die basis van die produk, die aartappel en patat, wat dit ongesond maak nie.

“Die basis van skyfies is nie waar dit verkeerd gaan nie, maar eerder die manier waarop die skyfies gaargemaak word. Selfs al bestel jy patatskyfies, maar dit word diepgebraai, is die vetinhoud van wat jy eet nog steeds baie hoog, en dít is die probleem. Veral as die restaurant nie elke keer vars olie gebruik nie,” het sy gesê.

Hoffman het gesê dit is die heel beste om patatskyfies eerder by die huis te maak.

“Die beste manier om patatskyfies te maak is om die om die patat in dun skyfies te sny en ʼn bietjie olyfolie en sout oor te gooi. Olyfolie is ʼn natuurlike anti-inflammatoriese middel. Rooster dan die skyfies in die oond tot dit gaar is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gertryda ·

Dis altyd vir my so ongelooflik wat die mense sê wat se kos is beter ens
Aartappels en patats is baie sleg vir mense met nierprobleme
Dit sal die foendies nooit noem nie

Basson ·

Jy klink na ‘n fundi, wat is fout met dit?
(Ek kon geen wetenskaplike bewyse opspoor)

Robert ·

Nou toe nou Gertryda lyk my jy is die fundi op aartappel en patat dieet. Gee vir ons daai verwysing dat patat sleg is vir jou niere. Jy droom seker lekker. Die grootste verskil tussen aartappel en patat is dat die patat anti-oksidante bevat veral die oranje een

Bad Ballie ·

Ek koop deesdae lae GI aartappels by Checkers. Hulle beweer hulle het aleenreg om dit te bemark

Jane ·

Patats het amper presies dieselfde hoeveelheid koolhidrate per 100g as aartappels. So vir gewigsverlies is dit nie so goeie idee om patats te eet nie. Wat betref die nier aangeleentheid, patats is nie sleg vir iemand met gesonde niere nie maar is wel nadelig vir n persoon wat reeds sukkel met niersiektes/nierprobleme/nierstene as gevolg van die groot hoeveelhede potassium wat in patats voorkom.

carel ·

as jy ouer as 65 jaar is en nog lekker kan stap, is alles wat jy tot nou toe nog ge-eet het reg en geaond. doe so voort!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.