Soorte resepte:

[Resep] Aarbeikonfyt met vanielje

Aarbeikonfyt

Foto: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte

Hierdie loperige aarbeikonfyt bevat heelwat minder suiker en is so lekker dat ʼn mens dit op amper alles wil eet. Die suurlemoensap laat die konfyt stol terwyl die vanieljepeul ʼn interessante smaak verleen. Dit gaan goed saam met Franse roosterbrood, wafels en plaatkoekies en is selfs lekker saam met jogurt, vars vrugte en neute vir ontbyt. Smeer dit tussen twee lae botterkoek of gebruik dit as ʼn sous vir nagereg.

Lewer ongeveer 750 ml

Bestanddele:

  • 1 suurlemoen
  • 1 kg aarbeie, in kwarte gesny
  • 350 ml suiker
  • 90 ml (6 e) suurlemoensap
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap

Metode:

  1. Sny 3-4 breë repe suurlemoenskil met ʼn aartappelskiller af. Sny elke reep in ʼn paar dunner repies.
  2. Plaas al die bestanddele, insluitend die vanieljepeul met die saadjies, in ʼn kastrol en meng goed deur. Laat staan vir 15 minute tot die suiker begin oplos en die aarbeie ʼn sous begin vorm.
  3. Verhit die vrugte oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt, stel die hitte effens laer en prut vir 20-30 minute, maar moenie dat die konfyt te vinnig kook nie. Skep enige skuim versigtig of, maar maak seker dat nie te veel vanieljesaadjies verlore gaan nie .
  4. Toets ʼn bietjie van die konfyt op ʼn koue piering ná 30 minute. As die konfyt vinnig stol en jy met jou vinger ʼn paadjie deur ʼn druppel kan trek sonder dat dit weer bymekaarkom, is die konfyt gereed. Prut vir nog 10 minute as dit steeds te loperig is. Dis egter nie ʼn stywe konfyt as dit afgekoel het nie. Moet dit dus nie te veel kook nie.
  5. Skep die warm konfyt in gesteriliseerde glasflesse, verseël en laat dit heeltemal afkoel. Of skep dit in ʼn bakkie en hou in die yskas.
  6. Gebruik op enige van die voorgestelde maniere.

Wenke

  • Om flesse te steriliseer: Vul die flesse met kookwater en laat staan vir ʼn paar minute. Plaas die deksels in ʼn bak en bedek ook met kookwater. Vul die warm flesse met warm konfyt en verseël dadelik.
  • Vervang die helfte van die aarbeie met ʼn mengsel van bessies, soos bloubessies en frambose.
  • Vervang die vanieljepeul met ʼn stuk pypkaneel

Bron: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.