Soorte resepte:

[Resep] Appel-en-piesangmuffins  

Appel-en-piesangmuffins . Foto: Verskaf

Appel, piesang, kaneel en vanielje. Dit is omtrent ʼn lekker aroma wat jou kombuis gaan vul. Om ʼn resep vir ʼn soet bederf te kry met min of geen suiker in nie, kan soms nogal moeilik wees. Hierdie appelmuffin-resep is dan dalk net waarna jy soek. Ongelukkig bevat meeste resepte vir gebak dikwels heelwat suiker, wat nie ideaal is nie. As ʼn mens dus met ander bestanddele, wat mekaar se geure aanvul, dieselfde soet smaak kan kry, maak dit dinge net soveel makliker. Jou gesin sal nie eers weet dat daar nie suiker in is nie.

Vir hierdie appelmuffin-resep word appelpuree en piesang gebruik om steeds ʼn lekker sagte tekstuur te gee. Gebak bevat ook dikwels baie verfynde koolhidrate. Met ʼn paar slim planne is die veselinhoud en dus voedingswaarde van die muffin aansienlik hoër as een wat net met koekmeel en baie suiker gemaak word.

Die appelpuree is maklik om te maak en iets wat jy sommer in grootmaat kan voorberei terwyl appels in seisoen is. Vries dit in porsies soos wat jy dit vir ʼn volgende keer gaan nodig hê. Ek gebruik dit graag in ʼn maalvleis of ʼn bredie met ʼn tamatiebasis, waarby mens soms ietsie soets wil voeg om die tamaties se suurheid te neutraliseer. Lekker kook en bak!

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 12 muffins
  • Bestanddele:

    Appelpuree (lewer 250 ml)

    • 4 JAZZ™ appels, met die skil in blokkies gesny
    • ¼ k (60 ml) water
    • 2 t (10 ml) suurlemoensap
    • 1 kaneelstokkie

    Muffins

    • ½ k (125 ml) volkoringmeel
    • ½ k (125 ml) koekmeel
    • ½ e (7,5 ml) bakpoeier
    • 1 t (5 ml) gemaalde kaneel
    • 1 k (250 ml) grofgerasperde JAZZ™ appels, met die skil
    • ½ k (125 ml) voorbereide appelpuree
    • 1 groot ryp piesang, met ’n vurk fyngedruk
    • 2 groot Nulaid eiers, geklits
    • 6 e (90 ml) sonneblomolie
    • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

    Metode:

    1. Appelpuree: Plaas appels, water, suurlemoensap en kaneelstokkie in ’n kastrol. Bring oor matige hitte tot kookpunt en prut tot sag. Dreineer die vloeistof, maar hou dit eenkant. Verwyder die kaneelstokkie en verpulp die appels met ʼn stokmenger tot glad. Voeg ʼn bietjie van die behoue vloeistof by, indien dit nodig is om dit nog gladder te maak.
    2. Muffins: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n muffinpan liggies met olie.
    3. Meng al die droëbestanddele saam en roer die gerasperde appel deur. Meng die res van die bestanddele saam.
    4. Roer dié mengsel by die droë-mengsel tot ’n gladde beslag vorm. Moenie te veel roer nie.
    5. Skep beslag in die muffinpan en bak 25-30 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
    6. Laat afkoel op ʼn afkoelrakkie. Sit 1-2 muffins per persoon voor.

    Wenke:

    1. Enige orige appelpuree kan gevries word. Gebruik vir nog ʼn baksel muffins of om ’n soutgereg soeter te maak, sonder om suiker te gebruik. Dis heerlik in ʼn sop, bredie of maalvleisgereg.
    2. Roer ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies by die muffins.

    Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

    Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

    ondersteun maroela media só

    Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

    Maak 'n bydrae

    Nou pra' jý

    4 Kommentare

    Heila Janse van Rensburg ·

    Kan iemand asb vir my se wat is volkoringmeel. Dankie.

    maritza ·

    Ek dink dit is ‘wheat flour’ wat jy ook op die rakke sal vind naby die gewone koekmeel.

    O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.