Hierdie winterkoue kan jy nie aanpak sonder ʼn stukkie beskuit en boeretroos nie.
Lewer ongeveer 1 kg beskuit
Bestanddele:
- 125 g ontpitte dadels, gesnipper
- 125 ml kookwater
- 375 ml sagte bruinsuiker
- 300 ml botter
- 1 eier
- 500 ml karringmelk
- 4 x 250 ml semelryke bruismeel
- 500 ml bruismeel
- 5 ml bakpoeier
- 5 ml sout
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer en smeer ‘n groot oondpan met botter.
- Verhit die dadels en kookwater saam oor lae hitte tot kookpunt. Roer die suiker en botter by tot die suiker gesmelt het. Verwyder dit van die hitte.
- Klits die eier en karringmelk saam en roer dit by die dadelmengsel.
- Meng die droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die meelmengsel en meng die dadelmengsel by tot ‘n deeg vorm.
- Vorm ewe groot balletjies deeg en plaas dit teen mekaar in die pan. Die deeg kan ook eweredig in die pan vasgedruk word.
- Bak dit 45 minute of tot goudbruin en gaar. Keer die beskuit versigtig uit en laat afkoel.
- Breek die balletjies uitmekaar of sny dit in stukkies.
- Voorverhit die oond tot 100 °C en plaas die beskuit op bakplate. Laat dit ten minste 6-8 ure of oornag uitdroog.
- Laat die oonddeur op ‘n skrefie oop.
- Bron: Lekker & Vinnig: Beskuit
- Uitgewer: Lapa
Mensig maar dit lyk nou lekker gaan hom defnitief probeer vir die beskuit blik,