Soorte resepte:

[Resep] Een-eier-omelet

Een-eier-omelet (Foto: Verskaf)

Eiers kan op soveel maniere gebruik word en dis beslis nie net bedoel vir gebak en ontbyt nie. Dit is boonop ’n baie gesonde bestanddeel, want dis propvol proteïen en ’n goeie bron van antioksidante, vitamiene, minerale en gesonde olies.

Die feit dat eiers ook by soveel ander bestanddele pas, maak dit juis ideaal vir hierdie een-eier-omelet, want jy kan kies wat jy as vulsel wil gebruik. In die resep word maaskaas op die omelet gesmeer en dan verder gevul, maar wees ook self kreatief met verskillende opsies. Selfs ’n klein skeppie oorskietmaalvleis, of skyfies biltong en avokado of ’n geurige kaas sal lekker wees. Kyk ook na die wenke onderaan die resep vir nog idees. Gebruik ’n pannetjie van omtrent 20 cm in deursnee om ’n lekker grootte omelet te maak. Dis letterlik een eier en een eetlepel water wat saamgeklits word om, soos ’n pannekoek, as omelet te bak. Bak een of twee omelette vir elke kind en dalk selfs drie vir ’n grootmens. As die omelette gevul is en in skyfies gesny word, noem ek dit sommer “eier-sushi”.

Lewer 1 omelet

Bestanddele

  • 1 Nulaid- ekstragroot eier, geklits
  • 15 ml (1 e) water
  • sout en pepper
  • 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
  • gladde maaskaas
  • handvol vars kruie, bv. dille, pietersielie of tiemie, gekap

Metode

  1. Klits die eier en water saam en geur met sout en peper.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ’n 20 cm-pannetjie en bak ’n dun omelet tot net gestol. Draai om en bak vir ’n minuut aan die ander kant – amper soos wat jy ’n pannekoek sal bak. Skep uit en laat afkoel. (Berei een tot drie omelette vir elke gesinslid.)
  3. Smeer gladde maaskaas oor die omelet en strooi kruie van jul keuse oor. Rol op en sny in die helfte of in dik skyfies. Geniet as deel van ’n ligte maaltyd met groente en slaai of pak in kosblikke met vars bestanddele.

Wenk

  1. Amper enigiets kan as vulsel in die omelette gebruik word. Geblikte tuna, gerasperde wortel, basiliekruidpesto wat met maaskaas gemeng is of bietjie gerasperde kaas sal heerlik wees.

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNET se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy meer oor hierdie twee resepte wil lees of na nog resepte op soek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.