Soorte resepte:

[Resep] Fillohappies met botterskorsie en geblikte sardientjies

Foto: Lekker en Vinnig

Fillohappies met botterskorsie en geblikte sardientjies. Foto: Lekker en Vinnig

Lewer 16 fillohappies

Bestanddele:

  • 150 g botterskorsie, in 1 cm-blokkies gesny en gaargemaak
  • 40 g songedroogde tamaties, fyngekap
  • 410 g (1 blik) sardientjies in tamatiesous, fyngemaak
  • 5 ml koljandersade, fyngemaal in ʼn stamper en vysel
  • 2,5 ml fyn komyn
  • 3 ml rissievlokkies of 1 fyngekapte vars rooi rissie
  • 50 ml gekapte vars koljanderblare
  • 60 ml olyfolie
  • 4 velle fillodeeg
  • swart of wit sesamsaad, om te garneer

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Meng die gaar botterskorsie, tamaties, sardientjies, koljander, komyn, rissie en koljanderblare in ʼn mengbak.
  3. Verf een vel fillodeeg met olyfolie. Bedek die res van die velle met ʼn klam vadoek sodat dit nie uitdroog nie.
  4. Sny die gesmeerde vel fillodeeg in die lengte in 4 dele, sodat daar 4 lang stroke is.
  5. Plaas ʼn teelepelvol vulsel aan die linkerkant, op die onderpunt van elke strook.
  6. Vou die regterkantste hoek oor die vulsel om ʼn driehoek te vorm. Gaan voort om die deeg te vou, sodat daar met elke vouslag ʼn driehoek vorm, totdat die hele strook deeg opgebruik is en ʼn driehoekpasteitjie gevorm is. Herhaal met die res van die deeg en vulsel.
  7. Verf elke pasteitjie met olie en plaas op ʼn gesmeerde bakplaat.
  8. Strooi sesamsaad oor en bak 10-12 minute tot bros en goudbruin. Sit warm voor.

Bron: Lekker en Vinnig – Blikkies en Pakkies
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Ek sou kon doen met ʼn pampoen, Nettie Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.