Soorte resepte:

Resep: Gekrummelde mac-en-kaasskywe

Gekrummelde-mac-en-kaasskywe

Gekrummelde mac-en-kaasskywe. Foto: Berna Coetzee/Landbouweekblad.

Lewer 8 porsies.

Bestanddele:

  • 250 g (halwe pak) macaroni
  • Witsous
  • 60 ml elk botter en koekmeel
  • 560 ml warm melk
  • 375 ml gerasperde cheddarkaas
  • 5 ml sout
  • Knippie witpeper
  • 5 ml Dijon-mosterd

Bestanddele vir die krummellaag:

  • 180 ml gegeurde koekmeel
  • 3 eiers, geklits
  • 375 ml vars witbroodkrummels
  • Olie, vir braai

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondvaste bak met botter.
  2. Kook die pasta in  soutwater wat vinnig kook tot sag, maar ferm.
  3. Terwyl die pasta kook, berei die witsous: Smelt die botter in ’n kastrol oor matige hitte op die stoof, voeg die koekmeel by en roer tot glad.
  4. Verhit tot die mengsel borrel, terwyl jy ongeveer 1 minuut lank aanhoudend roer.
  5. Voeg die melk by en verhit tot die sous kookpunt bereik terwyl geroer word.
  6. Roer die sout, peper en mosterd by en laat prut vir 3 minute, roer voortdurend.
  7. Haal van die stoof af, voeg die kaas by en roer tot goed gemeng.
  8. Giet die sous oor die pasta en meng deur.
  9. Skep in die gesmeerde oondbak en bak vir 20-30 minute tot ferm en goudbruin.
  10. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel verder tot yskoud.
  11. Sny die macaroni-en-kaas in skywe en lig dit met ’n eierspaan uit die bak.
  12. Bestuif eers die pastaskywe met meel, doop dan in geklitste eier, sodat dit met ’n egalige eierlagie bedek is.
  13. Rol laastens elke pastaskyf in broodkrummels en druk dit goed met jou hande vas.
  14. Verkoel tot benodig of braai sommer dadelik in vlak, matige warm olie tot goudbruin, bros en deurwarm.
  15. Sit dadelik met jou gunstelingsous voor.

Bron:

Die resep van Arina du Plessis is gepubliseer in die Landbouweekblad en verskaf vir publikasie aan Maroela Media deur die bemarkingspan van die SA Kaasfees, wat vanaf 25 tot 27 April in Sandringham, Stellenbosch plaasvind. Besoek www.cheesefestival.co.za vir meer inligting oor die gewilde fees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anita ·

Goeie genugtig! Ek weet wat ons vir aandete smul vanaand! :-)

Milan ·

Sjoe! Dit lyk verskriklik lekker. Maak sommer my tande water. hehe :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.