Soorte resepte:

[Resep] Groentekerrie met bone

Groentekerrie met bone (Foto: verskaf)

Maak dié groentekerrie met bone vir ’n heerlike winters-eenskottelgereg. Dit is so geurig en vullend dat jy nie eens die vleis sal mis nie, en ’n smaaklike manier om ’n vleislose aandete te berei. Die kerrie het heelwat groente in en saam met die bone, wat beide proteïene en stysel bevat, is daar genoeg stysel dat die ete sommer net so in ’n bakkie voorgesit kan word, sonder dat jy nog rys of aartappels ook moet gaarmaak. Sit hardgekookte eiers by as jy dit selfs nog meer voedsaam wil maak. Die blokkies appel hierin is baie lekker saam met die kerriegeure, so probeer dit gerus.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 3 wortels, in blokkies gesny
  • 1-2 groen brandrissies, heel (opsioneel)
  • 3 kerrieblare (opsioneel)
  • 2,5 ml (½ t) borrie
  • 15 ml (1 e) kerriepoeier of na smaak
  • 5 ml (1 t) masala van jou keuse
  • 3 tamaties, in blokkies gesny
  • 2 Pink Lady®-appels met die skil, in blokkies gesny
  • 1 eiervrug, in blokkies gesny
  • 125 ml (½ k) water
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 125 ml (½ k) elk blomkoolblommetjies en groenboontjies
  • ¼ koolkop, in repies gesny
  • 250 ml (1 k) gaar bone of geblikte bone, gedreineer
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 6-8 Nulaid-eiers, hardgekook om met die kerrie voor te sit

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High sal goed werk) en braai die ui, knoffel, wortels, brandrissies, kerrieblare en speserye.
  2. Voeg tamaties by en prut vir ’n paar minute. Roer appels, eiervrug, water en sout by.
  3. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 15-20 minute.
  4. Roer blomkool, groenboontjies, kool en bone by en prut vir nog 15-20 minute of tot die eiervrug sag is. Geur met suurlemoensap en swartpeper.
  5. Sit as maaltyd voor of laat afkoel en pak in ’n kosblik met vars avokado-blokkies.

Hardgekookte eiers, in wiggies gesny, sal ook lekker saam met die kerriegeure wees. Roer dit by vir ’n aandete, of sit dit apart in ’n kosblik saam met die kerrie.

Wenke

  1. Vervang die geblikte droëbone met enige ander bone van jou keuse.
  2. Indien verkies, kan meer brandrissies of kerriepoeier bygevoeg word. Sit voor met gekapte vars koljanderblare.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.