Soorte resepte:

Resep: Hawermout met lekkertes bo-op

(Foto: Verskaf)

Hawermout met melk en suiker is sekerlik die algemeenste manier om dit vir ontbyt te eet, maar het jy al kaneel, piesang en ’n druppel heuning beproef? Of wat van gekapte amandels met somervrugte? Druiwe, mango, perske en papaja is heerlik en ’n maklike manier om hawermout se tekstuur, waarvoor baie kinders nie altyd so lief is nie, bietjie anders te laat “proe”.

Hawermout is so ’n voedsame, veselryke ontbyt. Met ’n gesonde bolaag sal dit jou ekstra lank versadig hou. Dis ook ’n aansienlik beter keuse as die meeste soorte bokspap – ten spyte van al die beloftes van hoe gesond dit is. Lees ’n slag die etiket en wees bewus van die hoeveelheid suiker en bygevoegde bestanddele wat in jou papbakkie beland. Wees kreatief met bolaag-idees en hou die oggend wanneer jul hawermout eet, op dié manier interessant en geurig. Lees ook die wenke onderaan die resep om dit sommer nog vinniger te kan kook.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 250 ml (1 k) rou hawermout
  • 750 ml (3 k) water
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • vars seisoensvrugte, neute, tuisgemaakte muesli, kaneel of geroosterde klapper om mee voor te sit

Metode

  1. Plaas die hawermout, water en sout saam in ’n klein kastrol (gebruik ’n AMC 20 cm Low) en verhit oor matige hitte. Sodra die mengsel begin prut, roer aanhoudend om klonte te vermy en te keer dat dit aanbrand. Prut 5-10 minute of tot gaar.
  2. Dien porsies hawermout op met elkeen se keuse van vars seisoensvrugte soos piesang, perske, mango, druiwe of bloubessies, gekapte neute, sade, tuisgemaakte muesli, gemaalde kaneel of geroosterde klapper. Of sien die wenke vir meer idees.

Wenke

  1. Hawermout vir een: 60 ml (¼ k) rou hawermout met 180 ml (¾ k) water en ’n knippie sout. Kook soos hierbo, of meng in ’n groot glasbak en plaas in ’n mikrogolfoond vir 3-5 minute. Die gaarmaaktyd sal afhang van die mikrogolfoond se krag. Roer gereeld en hou dop dat dit nie oorkook nie.
  2. Pampoen- of sonneblomsaad is heerlik met hawermout en vrugte of bessies. Gekapte rou, ongesoute amandels is ook lekker – gebruik 30 ml (2 e) per porsie.
  3. Eksperimenteer met verskillende geurkombinasies soos droëvrugte met geroosterde klapper; gemaalde kaneel en piesang met ’n bietjie heuning of druiwe, kruisement, amandels en papawersaad. Neut-en-sademengsels soos dukkah sal ook lekker wees.
  4. Indien jy gewoond is aan suiker op jou hawermout, probeer vrugte as alternatief. Dit gee ’n natuurlike soet smaak en heerlike tekstuur. As jy sukkel in die begin, verminder geleidelik die hoeveelheid suiker tot jy dit afgeleer het.
  5. Berei die hawermout die vorige aand, sodat jy dit maklik die volgende oggend kan inpak werk toe. Of skink solank die water die vorige aand oor, sodat dit solank week, dan kook dit heelwat vinniger gaar.

 

Besoek gerus my webwerf www.heleenmeyer.co.za en klik op Kosblik 101 om nog resep-idees vir jou gesin se kosblikke te kry. Kyk ook op ’n Maandagoggend net ná 07:00 saam na #In&UitKosblik op kykNET se kanaal 145. Teken in op die blogs op my webwerf om gereeld nuwe resepte en idees te ontvang of volg my op Facebook https://www.facebook.com/HeleenMeyerFood/. Lekker kook!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. die eerste ·

Maak my oats sommer in mikrogolfoond. Vinniger en het nog nooit aangebrand. Altyd rosyntjies en bosbessies en soms neute as ek het ook by.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.