Die boek, Partytjies is pret 5, bevat verskeie idees vir kinderpartytjies vir seuns en dogters. “Hier kom die seerowers!” is een van die partytjie-idees wat in dié oulike boek vervat is. Daar is ‘n seerowerskipkoek, idees vir uitnodigings, pita-bootjies, seerower-brousels en kolwyntjiebakens en selfs idees vir ‘n oulike geskenkie om huis toe te vat.
Om te drink:
Seerowerbrousel (sien foto onderaan)
Hardebaard-seerowers drink gevaarlike brousels. Maak vir hulle kola-vlotte en laat die skuim hoog bo die glase uitstaan. Sit dit met lepels voor.
Kolwyntjie-bakens
Versier ‘n bak kolwyntjies (resep volg onderaan) met botterversiersel wat by die kleurskema pas. Druk ‘n goue sjokolademunt in van die kolwyntjies en ‘n seerowervlaggie in die res en pak dit oral op die tafel.
Kolwyntjies:
Lewer 12 kolwyntjies
Bestanddele:
125 g sagte botter
180 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
1 ekstra-groot eier, geklits
550 ml bruismeel
200 ml melk
Metode:
1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
2. Voer ‘n muffinpan met papiertjies.
3. Verroom die botter en strooisuiker goed.
4. Voeg die vanieljegeursel en eier by en klits dit deur.
5. Vou die bruismeel en melk daarby in.
6. Maak die papiertjies driekwart vol met die beslag en bak dit vir 12 – 15 minute in die verhitte oond tot gaar.
7. Haal dit dadelik uit die pan en laat dit op ‘n draadrak afkoel (anders trek die papiertjies los van die koekies).
Dié partytjie-idees is gepubliseer in die boek, Partytjies is pret 5
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R185-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Die resepte lyk baie interesant en oulik Vir my kleinkinders