’n Gesonde happie saam met oggendtee voor werk en skool. Vir my kinders is dit ook ’n energiehappie vir die kosblik.
Lewer 50 stukke beskuit
Bestanddele:
- 350 g (1 k) sagte bruinsuiker
- 500 g (2 k) bakmargarien
- 625 ml (2½ k) vetvrye jogurt
- 4 ekstragroot eiers, geklits
- 1 kg (7 k) Nutty Wheat
- 5 ml (1 t) kremetart
- 10 ml (2 t) koeksoda
- 10 ml (2 t) bakpoeier
- 5 ml (1 t) sout
- 30 g (1 k) semels
- 80 g (1 k) hawermout
- 80 g (1 k) fyn klapper
- 150 g (1 k) papawersaad
- 100 g (1 k) pekanneute, gekap
- 150 g (1 k) sesamsaad
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ’n beskuitpan van 35 cm x 45 cm
- Smelt die bruinsuiker en botter saam en plaas eenkant om af te koel. Voeg dan die jogurt en eiers by.
- Meng al die droë bestanddele en roer goed deur. Maak ’n holte in die middel en voeg die jogurtmengsel by. Roer die mengsel met ’n houtlepel deur totdat die bestanddele goed gemeng is. Moenie die deeg oorwerk nie. Skep in die pan en sny vingers voordat dit gebak word.
- Bak die beskuit vir 35 minute totdat dit mooi goudbruin is. Laat die beskuit in die pan afkoel voordat dit opgesny word. Droog die beskuit vir 3 – 5 uur uit by 100 ºC; hou die oonddeur op ’n skrefie oop met ’n houtlepel.
- Laat die beskuitvingers goed afkoel voordat dit verpak word.
Uit: Boerekos met ʼn twist
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R330-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke