Soorte resepte:

[Resep] Karringmelkbrood met kaas

Karringmelkbrood met kaas (Foto: verskaf)

Bak die karringmelkbrood sommer in die week of as julle weer oor ʼn naweek ʼn braaivleisvuur aansteek. Maar wees gewaarsku – as dit warm uit die oond kom, is dit onweerstaanbaar. Daar bly nie maklik iets vir die volgende dag oor nie, so as jy beplan het om ʼn paar toebroodjies vir die volgende dag se kosblikke te maak, moet jy uit die staanspoor twee bak.

Die rysmiddel in die resep is bakpoeier, so dis ideaal vir daardie dae wanneer jy lus is vir tuisgebakte brood, maar nie genoeg tyd het om nog deeg te laat uitrys en dit af te knie nie. Of as jy nog nie baie ervaring met gisgebak het nie. Die eiers en karringmelk verleen ʼn sagte tekstuur aan die brood sonder dat daar ander vet of olie in die resep is. Tuisgebakte brood is nie net ʼn lekker bederf nie, maar dikwels ook gesonder want jy weet presies watter bestanddele daarin gebruik word.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 1 brood

Bestanddele:

  • 750 ml (3 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 5 ml (1 t) paprika
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 2 Nulaid- groot eiers, geklits
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 15 ml (1 e) elk vars gekapte pietersielie en tiemie
  • 125 ml (½ k) grofgerasperde cheddarkaas
  • 7,5 ml (½ e) sesamsaad

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n 1,5 liter-broodpan met bakpapier uit. Smeer liggies met olie.
  2. Plaas die droë bestanddele in ʼn groot mengbak. Klits die eiers en karringmelk saam en roer die kruie en helfte van die kaas by. Roer net tot al die droë bestanddele ingemeng is en moenie te veel meng nie.
  3. Skep die beslag in die broodpan en strooi die res van die kaas en sesamsaad oor.
  4. Bak vir 45 minute tot 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute op ’n afkoelrakkie staan en keer dan versigtig uit.
  5. Laat effens afkoel en sny in skywe om as bygereg met braaivleis voor te sit. Die brood is die volgende dag heerlik in ’n kosblik.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.