Soorte resepte:

Kosblik-idees: Sardyne-gebak en dadel- en sjokoladeballetjies

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Vandeesweek se sardyngebak is lekker as ʼn maaltyd en ewe geskik vir ʼn kosblik. Mense wat by voedingskemas of gemeenskapskombuise betrokke is en op soek is na resepte wat bekostigbaar, voedsaam en vullend is, sal dit beslis ook kan gebruik.

Dit kan ook met tuna gemaak word, maar sardyne is regtig voedsaam. Dis propvol gesonde olies, selfs wanneer dit in geblikte vorm gebruik word, teenoor geblikte tuna, waarvan die meeste van die olie verlore gaan in die gaarmaakproses. Die dun graatjies en ruggraat van sardyne is sag genoeg om saam met die ander bestanddele fyn te druk en is baie ryk aan kalsium. Moet dit dus nie uithaal nie, maar maak dit beslis deel van die gereg. Die eiers in die resep maak die gereg nog voedsamer, bind alles saam en gee dit ʼn sagte tekstuur.

Almal hou van ʼn soethappie, maar ons moet beslis oplet na die hoeveelheid suiker wat ons inneem. Vandag se dadelballetjies het ʼn heerlike sjokoladesmaak en is die perfekte idee vir ʼn soetbederf sonder suiker. Dis vir my baie belangrik om na ons kinders se gesondheid om te sien. Dit gaan teen my grein as ek soms sien wat mense in hul kinders se kosblikke pak en wat by skoolsnoepies verkoop word. Hier die dadelballetjies is ideaal vir kosblikke en snoepies.

Sardyne-gebak

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
  • Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 4 snye bruin- of volgraanbrood
  • 1 k (250 ml) melk
  • 1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous
  • 1 ui, gekap
  • 1 wortel, grof gerasper
  • 4 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 e (15 ml) gekapte vars pietersielie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 1 t (5 ml) paprika
  • ¼ k (60 ml) gerasperde kaas

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180°C.
  2. Skeur brood in stukkies en giet die melk oor. Laat dit bietjie week en druk met ʼn vurk fyn.
  3. Roer die vis in tamatiesous by en druk fyn. Voeg ui, wortel, eiers en sout by en meng goed deur.
  4. Roer pietersielie by en geur met suurlemoensap, swartpeper en die helfte van die paprika.
  5. Skep in ʼn oondbak en strooi kaas en die orige paprika oor.
  6. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Sit met slaai voor.

Dadel- en sjokoladeballetjies

  • Resep uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 20 balletjies

Bestanddele:

  • ½ x 80 g-blok donkersjokolade, in stukkies gebreek
  • 1 e (15 ml) kakao
  • 3 e (45 ml) melk
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel
  • 250 g ontpitte dadels, fyn gekap
  • 100 ml klapper
  • ekstra klapper en kakao vir versiering

Metode:

  1. Plaas sjokolade in ʼn glasbak en smelt oor ʼn kastrol water wat liggies kook. Maak seker die bak raak nie aan die water nie.
  2. Meng kakao met ʼn bietjie van die melk om ʼn pasta te vorm. Meng die res van die melk en die vanielje by.
  3. Roer van die gesmelte sjokolade in die melkmengsel tot glad. Meng dan die res van die sjokolade by.
  4. Meng die dadels en klapper met die sjokolademengsel. Rol teelepelsvol van die mengsel in balletjies of skep dit net op bakpapier en sprinkel met ekstra klapper of kakao en laat dit stol.
  5. Hou in die yskas en gebruik 1-2 balletjies as ʼn porsie vir ʼn peuselhappie.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

pd-logo-print_high-large nulaid-logo-640x213

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.