Soorte resepte:

[Resep] Macaroni-en-kaas met lensies

Macaroni-en-kaas met lensies (Foto: Verskaf)

Dis die laaste week van die skoolvakansie en hopelik is daar nog lekker baie kans vir kuier om ʼn tafel vir aandetes met heerlike gesinskos. Vir Kosblik is die resep uit Cooking from the Heart so ʼn bietjie aangepas om dit sommer nog vinniger gemaak, deur net ʼn melk en eiermengsel te gebruik en nie eers ʼn witsous te maak soos in die oorspronklike resep nie. Die twee opsies se tekstuur en smaak sal verskil, maar daar is menige macaroni-resepte met een van hierdie twee as basis.

Onthou jy dalk ʼn lekker macaroni-en-kaas uit jou kinderdae? Of het jy dalk ʼn slegte ervaring daarmee gehad en wil dit liefs nie onthou nie? Ek onthou in die koshuis was die gereg sulke stewige “blokke” pasta met iets bygevoeg, wat regtig nie aptytlik was nie. Daarteenoor is daar soveel lekker bestanddele wat ʼn mens by die basis van pasta en ʼn melkmengsel kan gebruik.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 300 g macaroni
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 e (15 ml) Westfalia-avokado-olie
  • 1 k (250 ml) gaar lensies, gedreineer
  • 1 k (250 ml) gemengde bevrore groente, afgespoel
  • 1 sny bruinbrood
  • 4 t (20 ml) vars tiemieblare
  • 100 ml gerasperde cheddarkaas

Sous

  • 600 ml melk
  • 3 ekstra-groot of 4 groot Nulaid-eiers
  • 1 t (5 ml) Worcestersous
  • 1 t (5 ml) aangemaakte mosterd
  • ½ tsp (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas water in ʼn groot kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt. Voeg macaroni en sout by en kook tot gaar. Dreineer en meng die olie by.
  2. Sous: Klits al die bestanddele saam.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C. Roer die lensies en groente by die pasta en skep in ʼn oondbak.
  4. Giet die eiermengsel oor die pasta. Krummel die brood met jou vingerpunte en meng met die tiemie en kaas.
  5. Sprinkel die broodkrummels oor die pasta en bak vir 25 minute of tot goudbruin en deurwarm.
  6. Sit met vars avokado voor – dit is baie lekker om die avo fyn te druk en dit met Westfalia se suurlemoen-gegeurde avokado-olie te geur. As die macaroni vir aandete gemaak word, kan ʼn slaai daarby bedien word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak vyf in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Die boek bevat eenvoudige en maklike resepte met bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.