Soorte resepte:

[Resep] Melkkos

Melkkos

Melkkos. Foto: Skottel en Spens

In die volksmond bekend as slinger-om-die-smoel.

Bestanddele:

  • 2 k koekmeel
  • 1 t sout
  • 3 eiers, effens geklits
  • ʼn bietjie water
  • Meel om oor die oppervlak te strooi
  • 1 k melk vir elke persoon
  • 2 e botter
  • Kaneelsuiker

Metode:

  1. Meng die meel, sout en eiers tot ʼn stywe deeg. Voeg ʼn bietjie water by indien nodig. Knie die deeg vir vyf tot tien minute totdat dit elasties is en klein blasies op die oppervlak vorm.
  2. Rol die deeg baie dun op ʼn meelbestrooide oppervlak uit en laat dit vir ongeveer tien minute lank staan om effens droog te word. Sny die deeg in repe. Strooi meel op elke reep en pak drie tot vier repe opmekaar. Sny die repe in die breedte, in baie dun skyfies, min of meer soos oupa’s vanmelewe hul tabak gekerf het. Skud die stukkies deeg oop en los van mekaar. Laat dit weer vir ʼn paar minute droog word.
  3. Gooi die melk in ʼn kastrol en bring dit tot kookpunt. Voeg die snysels geleidelik by die melk terwyl dit geroer word. Roer die botter by.
  4. Stowe dit stadig vir ʼn halfuur lank oor ʼn lae hitte tot gaar.
  5. Bedien dit in kommetjies of diep borde met kaneelsuiker bo-oor.

Melkfrummelvariasie:

Laat die water en melk weg wanneer die deeg aangemaak word en maak frummels in plaas van deeg. Die frummels vir melkkos word gemaak deur meel en botter tussen die vingers te vryf. Gooi die frummels geleidelik by kokende melk, met ʼn stokkie pypkaneel en sout en roer om te keer dat dit aanbrand. Prut dit vir sowat agt tot tien minute tot sag. In plaas van die kaneel kan kaneelsuiker by bediening bygevoeg word.

Bron: Skottel en Spens
Uitgewer: Duto Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aneleez ·

Ek wil net se baie dankie vir hierdie (regte) Melkos resep. Dis die eerste keer in n baie lang tyd dat ek hierdie weergawe van Melkos sien en dan noem jul dit nog slinger-om -die-smoel, dis hoe ek daarmee groot geword het.

Dankie en lekker dag verder.

Pops ·

Ek is al amper 70 en het nog NOOIT in my lewe van die naam slinger om die smoel gehoor nie. Waaroor gaan dit? Of is dit nou n nuwe naam wat onlangs geskep is? Of is dit provinsiaal?

Hendrika O'Neill ·

My man maak altyd die lekker frummel variasie. hy moet maar 4lt op ‘n slag maak (Groot pot) want almal tot by die werk soek ook van dit njammies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.