Soorte resepte:

[Resep] Mielie-en-kaaskoekies

Mielie-en-kaaskoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie mielie-en-kaaskoekies is ʼn lekker winterontbyt, veral as jy die kleingoed wil verras.

Lewer 25-30 koekies

Bestanddele:

  • 420 g (1 blik) geroomde suikermielies
  • 140 g (250 ml) bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 eiers
  • 100 ml melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 125 ml fyngerasperde Cheddarkaas
  • 45 ml olyfolie om te braai

Metode:

  1. Plaas die suikermielies in ʼn groot glasbak en sif die droë bestanddele bo-oor.
  2. Roer die eiers en melk by en meng deeglik. Geur na smaak en roer die kaas by. Dit is ʼn redelik loperige beslag.
  3. Verhit ʼn braaipan oor matige hitte, voeg 10-15 ml van die olie by en laat dit warm word. Skep lepels vol beslag op die boom en braai tot borrels bo-op vorm. Draai om en braai tot goudbruin en gaar.
  4. Dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die orige beslag en voeg nog olie by soos benodig. Moenie die koekies te groot maak of te veel olie gebruik nie.
  5. Sit voor as ʼn ete met ʼn slaai, as peuselhappie of bygereg saam met worsies, frikkadelle of hoender.

Variasies:

  • Vervang die bruismeel met semelryke bruismeel en voeg ʼn bietjie ekstra melk by, indien nodig.
  • Roer 100 ml fyngekapte ham, salami, gaar spek of gedreineerde tuna by die beslag.
  • Jy kan ook 30 ml gekapte vars of 5 ml droë gemengde kruie of tiemie by die beslag roer.

 

Bron: Blikkies & pakkies  

Uitgewer: Lapa

Deel van: Kos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.