Soorte resepte:

Resep: Mieliepap

mieliepap

Foto: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis

As iemand vir jou organiese mieliepap uit die Vrystaat kan bring, is dit nog beter. Glo my, dit maak ʼn groot verskil.

Krummelpap
Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 450 ml water
  • 5 ml sout
  • 500 ml organiese mieliemeel
  • grofgemaalde swartpeper na smaak
  • 15-20 ml botter

Metode:

  1. Verhit die water en sout in ‘n swaarboompot tot kookpunt.
  2. Gooi die meel in die middel van die water en roer dit met ‘n lang vurk totdat dit groterige krummels vorm.
  3. Sit die deksel op die pot en verlaag die hitte tot op die laagste stelling.
  4. Kook die pap vir ongeveer 45-50 minute en roer elke 10 minute die krummels met ‘n vurk los.
  5. Pasop dat die pap nie brand nie. Sit voor met grofgemaalde swartpeper en plaasbotter.

Stywepap
Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 500 ml water
  • 5 ml sout
  • 250 ml organiese mieliemeel
  • 15 ml botter om voor te sit

Metode:

  1. Verhit die water en sout in ‘n swaarboompot tot kookpunt.
  2. Meng die mieliemeel met ‘n bietjie water om ‘n slapperige mengsel te vorm en roer dit by die kookwater.
  3. Meng goed. Sit die deksel op die pot en verlaag die hitte. Laat prut vir ongeveer 50 minute oor baie lae hitte en roer twee keer tydens die kookproses.
  4. As jy die regte pot, die regte meel en die regte hitte het, vorm die pap ‘n heerlike verrassingskorsie onder in die pot, wat hemels smaak saam met smeersels botter.

Slap pap
Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 liter water
  • 5 ml sout
  • 250 ml organiese mieliemeel
  • melk en suiker na smaak
  • 30 ml botter en ekstra om voor te sit

Metode:

  1. Verhit 750 ml van die water saam met die sout in ‘n swaarboompot en verhit tot kookpunt.
  2. Meng die ander 250 ml water met die mieliemeel om ‘n gladde mengsel te vorm en roer by die kokende water.
  3. Sit die deksel op die pot en verlaag die hitte tot op die laagste stelling.
  4. Laat dit vir 50 minute lank prut en roer twee keer tydens die kookproses. Haal van die plaat af en roer die botter deur. Sit voor met melk, suiker en nag ‘n klontjle botter per porsie.

Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dawie ·

Krummelpap kan gewoonlik moeilik wees om reg te kry die eerste keer. Gebruik liewer die verhouding van 3 koppies meel met 2 koppies water dit sal makliker krummel. :-)

Hannelie ·

Nou maak jul mens net honger. En ek is so lief vir krummelpap.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Dankie Dawie jou ou doring ek kom van die plaas en het noot self gemaak nie en was maar altyd skaam om te vra

Hendrik ·

“Organiese mieliepap”? Van wanneer af smaak dit beter as ander mieliepap? Die lekkerste mieliepap hoef nie organies te wees nie, maar moet gemaak word van meel wat gemaal is sonder dat die kiem van die mieliepit verwyder word. Boere maal dikwels self meel deur ‘n hamermeul op die plaas – daardie meel se kiem is in en smaak heerlik. Bêre dit in die vrieskas, so nie kan dit later galsterig raak.

Johann ·

Ek het as kind basies IN ‘n rollermeule groot geword. Ons het ons hande onder die rollers gehou en die warm mieliemeel wat daaruit geval het opgevang en huistoe geneem….vir VARS mieliepap. In daardie jare is ongeveer 4% van die mieliepit se semeldop verwyder en die res van die mielie is net so gemaal. Daarom was daar klein swart stukkies in die mieliemeel want dit was die kiem van die pit. Die groot meulens het toe begin om die kern van die mieliepit uit te druk om van mieliekiem-olie ‘n reeks peperduur produkte te maak, en al wat oorgebly het was die stysel. ‘n Groot gedeelte van die bevolking se daaglikse diëet het uit mieliepap bestaan, en hulle het later simptome van ‘n lewersiekte getoon omdat hulle NET die stysel van die mieliepit geëet het. Die regering het ingegryp en wetgewing ingebring wat daardie meulens verplig het om B-groep vitamines by te voeg (u sal lees op ‘n sak hedendaagse mieliemeel is dit “verryk” met riboflavien, ens.) om daardie lewer afwyking te voorkom. Die pap-eters was baie beïndruk met die suiwer WIT mieliemeel, wat so vinnig gaar word EN dan nog boon-op “vitamien verryk” is. Maar eintlik het hulle net die “afval” gekry van die mielie nadat die vesel verwyder is en die kern uitgedruk is…..saam met ‘n klomp kunsmatige vitamine. As jy mieliemeel kan kry wat gemaal is van die hele mieliepit….het jy geen “vitamien verryking” nodig nie….en dit smaak baie beter is vandag se “plastic” pap wat op ons rakke beskikbaar is. Ek sê maar net….

Hendrik ·

Johann, jy slaan die spyker op die kop. Ek het ‘n broertjie dood (figuurlik gesproke, natuurlik) aan hierdie “organiese” propaganda. Die smaak gaan alles oor die kiem (embrio) van die pit wat verwyder is. Saam met die kiem is die meeste proteïne ook verwyder uit winkelrak meel.

Emmie van Rooyen ·

Kan iemand my vertel waar ek organiese mieliemeel kan koop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.