Soorte resepte:

[Resep] Minder-vet-mayonnaise

Minder-vet-mayonnaise. Foto: Lekker en Vinnig

Hier is sommer drie souse te kies en keur !

Lewer ± 750 ml mayonnaise

Bestanddele:

  • 50 ml margarien
  • 60 ml koekmeel
  • 250 ml water
  • 2 eiergele (gebruik baie vars eiers)
  • 5-10 ml mosterdpoeier
  • 10 ml sout
  • 20 ml suiker
  • 250 ml sonneblom- of olyfolie of ½ van elk
  • 100 ml wit-, balsamiese, witwyn- of druiweasyn
  • ruim knippie witpeper
  • ruim knippie rooipeper of paar druppels Tabascosous

Metode:

  1. Verhit die margarien en meel saam in ʼn klein kastrol en voeg die water by. Verhit tot kookpunt oor matige hitte en klits met ʼn draadklitser tot glad en verdik. Laat prut 4-5 minute om te verseker dat die meel heeltemal gaar is.
  2. Plaas al die ander bestanddele in ʼn voedselverwerker of mengbak maar moenie meng nie. Voeg die warm sous by en meng tot ʼn gladde, dik mayonnaisesous vorm.
  3. Geur met ekstra suiker, asyn of suurlemoensap, sout, peper en rooipeper of Tabascosous na smaak.
  4. Giet die sous in ʼn glasfles of maak enige van die variasies. Die sous sal verdik terwyl dit afkoel. Verseël en verkoel tot 3 weke.

Variasies:

Bloukaassous

  • 125 ml Mayonnaisesous
  • 125 ml laevet- of vetvrye natuurlike jogurt
  • 60 ml bloukaas, gekrummel
  • 15 ml tamatiesous (opsioneel)

Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker tot glad en verkoel.

Knoffelsous

  • 125 ml Mayonnaisesous
  • 125 ml laevet- of vetvrye natuurlike jogurt
  • 5-10 ml gekapte of gekneusde knoffel (2-3 huisies)

Meng alles goed, verkieslik in ʼn voedselverwerker, en verkoel.

Tartaarse sous

  • 250 ml Mayonnaisesous
  • 100 ml pietersielietakkies
  • 50 ml heel kappertjiesade
  • 2 snye van ʼn medium ui
  • 2 heel grasuie
  • 30 ml gekapte piekelkomkommer
  • knippie elk knoffel-en kruiegeursel en varsgemaalde swartpeper
  • knippie gemengde droë kruie

Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker tot grofgekap.

Bron: Lekker en Vinnig: Souse
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Kies gesond, Carolie de Koster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.