Soorte resepte:

Resep: Prentjie-Kersfeeskoekies

Prentjie-Kersfeeskoekies

Spog jou niggies alewig met hulle ongelooflike bakvernuf en koekversieringstalente by elke familiebyeenkoms? En probeer jy altyd die onderwerp vermy want bak of versier is nou nie juis jou gunstelingtydverdryf nie?

Hierdie jaar help Maroela jou om hulle te wys dat jy ook soos ’n bobaas‑bakster kan lyk! Hierdie koekieresep is eenvoudig en baie maklik om te versier.

Bestanddele

KOEKIES

  • 125 g botter
  • 125 g bruinsuiker
  • 100 ml gouestroop
  • 1 eier
  • 250 g koekmeel
  • knippie sout
  • 10 ml fyn gemmer

VERSIERING

  • 250 g plastiekversiersel (pettinice)
  • Kersfeesprentjies gedruk op eetbare versiersuikerpapier
  • water

Metode

KOEKIES

Verhit oond tot 180 °C.

  1. Room botter, bruinsuiker en stroop tot lig en romerig met ’n eierklitser.

 

2. Voeg eier by en meng goed.

 

3. Voeg meel, sout en gemmer by bottermengsel.

 

4. Meng goed en knie tot ’n sagte koekiedeeg. Draai die deeg in kleefplastiek toe en laat rus in die yskas vir 25 minute.

 

5. Rol die koue deeg uit tot ongeveer 5 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak.

 

6. Druk vorms uit en bak op ’n gesmeerde bakplaat vir 12 – 15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

 

VERSIERING

  1. Rol die plastiekversiersel uit tot ongeveer 3 mm dik.

 

2. Druk vorms uit (ons het ’n kleiner vorm as die koekiedeeg gebruik).

 

3. Verf ’n dun lagie water op die klaargebakte koekies en plak die plastiekversierselvorm op elke koekie.

 

4. Sny nou die eetbare prentjies uit. Verf die agterkant van die eetbare prentjie met water en plak dit op die plastiekversiersel gedeelte. Laat goed droog word voor dit verpak word.

WENKE

  • Plastiekversiersel is verkrygbaar by jou naaste bakwinkel of sommige supermarkte.
  • Eetbare prentjies kan by die meeste bakwinkels gedruk word.
  • Verskillende kleure eetbare versiersuiker kan vir variasie gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.