Soorte resepte:

[Resep] Slaai met appel en eier plus ʼn veelsydige slaaisous

Slaai met appel en eier plus ʼn veelsydige slaaisous. Foto: Verskaf

Dis amper winter, maar daar is nog gereeld ʼn sonskyndag of twee, wat ʼn mens lus maak om nog ʼn kraakvars slaai vir middagete te geniet. Hier is ʼn maklike resep met appel, eier, avo en kekerertjies. En dan ʼn wonderlike en veelsydige slaaisous. Maak sommer van die begin af genoeg hiervan want daar is nog baie maniere waarop jy dit kan gebruik – sien die wenke hier onder.

Elke maaltyd behoort vullend en voedsaam te wees, ook wanneer dit in ʼn kosblik gepak word. Onthou om altyd ʼn hele dag se etes in ag te neem wanneer jy besluit hoe vullend middagete byvoorbeeld moet wees. As dit jou groot ete van die dag is, gaan jy dalk meer eier en avokado in die slaai wil sit, maar as jy met aandete ʼn groter maaltyd eet, moet middagete vullend genoeg wees om jou tot dan versadig te hou, maar nie te swaar nie.

Hierdie slaai is ʼn vegetariese ete, maar danksy die eiers, kekerertjies en ook avokado, lekker vullend. Daar is genoeg proteïene in die gereg, veral danksy die eiers. Eiers is ʼn uitstekende bron van hierdie belangrike voedingselement. Die kekerertjies en avokado bevat ook proteïene, maar dra verder by tot die koolhidrate en vesel in die maaltyd, plus die gesonde olies in die avokado en slaaisous. Al die voedselgroepe en noodsaaklike nutriënte is dus ingesluit.

Lewer 4 porsies

Betanddele:

Veelsydige slaaisous (Cooking from the heart)

  • 3 e (45 ml) olyf- of avokado-olie
  • 2 e (30 ml) balsamiese of rooiwynasyn
  • 1 e (15 ml) suurlemoensap
  • 2 t (10 ml) gekapte vars pietersielie en tiemie
  • 1 t (5 ml) matige mosterd
  • ¼ t (1,2 ml) sout
  • swartpeper na smaak

Slaai

  • 2-3 JAZZ™ Appels, met die skil, in repies gesny
  • 1 avokado, in skyfies gesny
  • ʼn groot handvol vars koljanderblare
  • 2-3 selderystingels, in dun skyfies gesny
  • 1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer
  • 60 ml (¼ k) sonneblomsaad, gerooster
  • 3-4 Nulaid ekstra-groot eiers, saggekook

Metode:

  1. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur met swartpeper.
  2. Bêre die slaaisous in ʼn skoon glasflessie in die yskas, dit sal vir 2 weke hou.
  3. Slaai: Pak die slaaibestanddele in lae in borde, kosblikke of ’n glasfles vir ʼn piekniek. Plaas die heel, afgedopte eier bo-op en sit voor met die slaaisous. (Wanneer die slaai geëet word, kan die persoon die eier oopbreek.)

Wenke:

  1. Gebruik die slaaisous om hoenderborsies aan die been te kook. Verwyder die vel en oortollige vet en panbraai aan albei kante tot goudbruin. Giet van die slaaisous oor, verlaag die hitte, sit ʼn deksel op en prut 20 minute of tot gaar. Die slaaisous kan ook oor ʼn heel hoender gegiet word, voordat dit gerooster word.
  2. Gebruik die slaaisous as marinade vir vis- of hoenderporsies, vark- of lamtjops. Braai oor die kole of panbraai soos in Wenk 1.
  3. Meng van die slaaisous met botterskorsie, murgpampoentjies of ander groente van jou keuse en rooster in die oond teen 180 ˚C tot gaar.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.