Soorte resepte:

Resep: Souse vir braaivleis

Foto: Lekker en Vinnig - souse

Souse vir braaivleis. Foto: Lekker en Vinnig – souse

ʼn Stukkie vleis is mos altyd lekkerder met ʼn sousie. Hier is sommer drie souse te kies en keur vir die naweek se braai.

Sampioensous

Resep oorspronklik gepubliseer in Spogresepte, Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie.

Bestanddele:

  • 30 ml olyfolie
  • 250 g sampioene, in skyfies gesny
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 30 ml koekmeel
  • 250 ml melk
  • 180 ml room
  • 15 ml sjerrie
  • 15 ml suurlemoensap
  • 5 ml matige aangemaakte mosterd
  • paar druppels worcestersous
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 15 ml vars tiemieblare

Metode:

  1. Verhit die olie en soteer die sampioene en knoffel tot die sampioene net sag is.
  2. Roer die meel deeglik by en voeg die melk geleidelik by tot ʼn sous vorm.
  3. Roer die room by en laat prut die sous tot dit verdik.
  4. Roer die sjerrie, suurlemoensap, mosterd, geurmiddels en kruie by.
  5. Dien warm op.

Groenpeperkorrel-met-mosterdsous

Resep oorspronklik gepubliseer in Keurkos, Carolie de Koster.

Bestanddele:

  • 25 ml botter of margarien
  • 1 klein knoffelhuisie, gepers, of
  • 1-2 ml knoffel-en-kruiegeursel
  • 25 ml koekmeelblom
  • 5 ml beesvleisaftrekselpoeier
  • 125 ml water
  • 125 ml room
  • 15 ml droogbevrore of ingemaakte
  • groenpeperkorrels
  • 15 ml aangemaakte mosterd
  • sout en varsgemaalde swart peper na smaak

Metode:

  1. Smelt botter of margarien, voeg die knoffel by en soteer 1 minuut lank.
  2. Voeg die koekmeel en beesvleisaftrekselpoeier by en roer die water en room in. Bring tot kookpunt en roer tot ʼn gladde sous verkry word.
  3. Maak die peperkorrels fyn en voeg by sous.
  4. Voeg die mosterd by en laat prut stadig vir 5 minute. Geur na smaak en hou warm.

Romerige brandewynsous

Resep oorspronklik gepubliseer in Braaitreffers, Hannetjie Joubert.

Bestanddele:

  • 125 ml mayonnaise
  • 150 ml room
  • 25 ml tamatiesous
  • 50 ml brandewyn
  • 5 ml aangemaakte mosterd
  • 5 ml vars of 2 ml droë pietersielie
  • 20 ml suurlemoensap
  • 1 piekelui, geskil en gerasper
  • 2 ml kerriepoeier
  • 10 ml bruinsuiker
  • 2 ml sout
  • knippie varsgemaalde swartpeper

Metode:

  1. Meng die bestanddele en verkoel tot gebruik.

Bron: Lekker en Vinnig: Souse
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.