Soorte resepte:

[Resep] Tamatiekonfyt

konfyt

Tamatiekonfyt. Foto: Bottel en gebruik

Die tamaties moet mooi ryp wees om ’n lekker tamatiesmaak en mooi robynrooi kleur te verseker. Tamaties wat in die son ryp geword het, smaak die beste. Dit is belangrik om ’n kastrol te gebruik wat ongeveer vier keer die volume van die konfyt kan hou omdat tamatiekonfyt baie skuim. Dit sal voorkom dat die helfte van jou kosbare konfyt op die stoof oorkook.

Lewer ± 1,5 kg

Bestanddele:

  • 1,5 kg ferm, ryp pruimtamaties, geskil en grof gekap
  • 1,25 kg suiker

Metode:

  1. Wissel lae tamaties en suiker in ’n swaarboomkastrol af, bedek met kleefplastiek en laat dit oornag staan sodat van die sappe onttrek word.
  2. Verhit en roer dit oor hoë hitte tot die suiker opgelos is – die mengsel moet begin skuim. Hou aan roer tot die skuim verdwyn, stel die hitte af en moet dan nie verder roer nie. Kook vir 35-40 minute tot die konfyt verdik, of tot dit 105 ˚C bereik.
  3. Toets vir stolpunt en verwyder van die hitte.
  4. Skep enige skuim af wat gevorm het. Laat staan die konfyt vir 5-10 minute.
  5. Skep dit in gesteriliseerde bottels en verseël.

Variasies:

Kersietamatiekonfyt

  1. Volg die resep vir tamatiekonfyt, maar vervang die pruimtamaties met heel kersiematies.

Tamatie-, suurlemoen-en-swartpeper-konfyt

  1. Voeg 50 ml pitlose rosyne, 15 heel swart peperkorrels en 2 suurlemoene, in baie dun skyfies gesny, in stap 1 by.

Tamatiekonfyt met gerookte paprika

Voeg 10 ml gekapte verglansde gemmer in stap 1 by.

Tamatiekonfyt met vars brandrissies

  1. Vervang die tamaties met gehalveerde kersietamaties en voeg fyngerasperde skil van 2 suurlemoene en 2 gekapte vars brandrissies in stap 1 by (verwyder die pitte om dit minder te laat brand).

Geel tamatiekonfyt

  1. Hierdie konfyt het ’n pragtige goue kleur. Vervang die pruimtamaties met heel geel peuseltamaties en vervang 250 g van die suiker met 250 g geelsuiker.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.