Soorte resepte:

[Resep] Versiersels

Versiersel

Versiersels. Foto: Die uitsonderlike Snowflake versameling

Jy sal nooit weer ander resepte nodig kry om ʼn heerlike versiersel te maak nie. Kyk net hoe baie opsies het dié resep.

Botterversiersel

Bestanddele:

  • 100 g sagte botter of margarien
  • 500 ml (250 g) versiersuiker, gesif
  • 10 ml vanieljegeursel
  • sowat 30 ml melk

Metode:

  1. Klop botter en versiersuiker saam tot romerig. Voeg geursel by, en net genoeg melk om tot glad en smeerbaar te meng.
  2. Smeer die helfte van die versiersel tussen die lae en die res bo-op die koek.

Karamelversiersel

Bestanddele:

  • 60 g sagte botter of margarien
  • 45 ml karamel-bruinsuiker
  • 30 ml karamel- of gouestroop
  • 375 ml (200 g) versiersuiker, gesif
  • 5 ml karamelgeursel
  • sowat 30 ml melk

Metode:

  1. Smelt botter, suiker en stroop saam. Voeg versiersuiker en geursel by, en net genoeg melk om tot glad en smeerbaar te meng.
  2. Smeer die helfte van die versiersel tussen die lae en die res bo-op die koek.

Sjokolade-botterversiersel

Bestanddele:

  • 100 g sagte botter of margarien
  • 500 ml (250 g) versiersuiker, gesif
  • 60 ml (25 g) kakaopoeier
  • 30 ml warm water
  • 5 ml vanieljegeursel
  • sowat 30 ml melk

Metode:

  1. Klop botter en versiersuiker saam tot romerig. Meng kakaopoeier met warm water tot glad en voeg by versiersel.
  2. Voeg geursel by, en net genoeg melk om tot glad en smeerbaar te meng.
  3. Smeer die helfte van die versiersel tussen die lae en die res bo-op die koek.

Wenk: Wanneer sjokoladeversiersel gemaak word, meng kakaopoeier met ’n bietjie warm water tot glad om te voorkom dat klonte vorm.

Roomkaasversiersel

Bestanddele:

  • 60 g sagte botter of margarien
  • 625 ml (325 g) versiersuiker, gesif
  • 100 g roomkaas
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 5 ml gerasperde suurlemoenskil (opsioneel)

Metode:

  1. Klop botter en versiersuiker saam tot romerig. Voeg roomkaas, geursel en suurlemoenskil by en klop liggies tot glad en smeerbaar.
  2. Moenie te veeI meng nie. Smeer op koek.

Grenadellaversiersel

Bestanddele:

  • 30 ml sagte botter of margarien
  • 625 ml (325 g) versiersuiker, gesif
  • 115 g (1 blikkie) grenadellamoes

Metode:

  1. Klop botter en versiersuiker saam tot romerig. Voeg grenadellamoes by en meng tot glad en smeerbaar.
  2. Smeer die helfte van die versiersel tussen die lae en die res bo-op die koek.

Sitrusversiersel

Bestanddele:

  • 60 g sagte botter of margarien
  • 500 ml (250 g) versiersuiker, gesif
  • 5 ml gerasperde suurlemoen- of lemoenskil
  • 45 ml vars suurlemoen- of lemoensap

Metode:

  1. Klop botter en versiersuiker saam tot romerig. Voeg die skil by en net genoeg suurlemoen- of lemoensap om tot glad en smeerbaar te meng.
  2. Smeer die helfte van die versiersel tussen die lae en die res bo-op die koek.

Glansversiersel

Bestanddele:

  • 250 ml (130 g) versiersuiker
  • sowat 30 ml warm water
  • 2 ml vanieljegeursel of vars suurlemoensap
  • paar druppels voedselkleursel

Metode:

  1. Sif versiersuiker en voeg net genoeg water by om tot glad en loperig te meng. Voeg geursel of sap en kleursel by.
  2. Giet versiersel oor bokant van koek en laat staan om te set.

Bron: Die Uitsonderlike Snowflake Verameling
Uitgewer: Random House Struik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.