Soorte resepte:

Resep: Vuurwarm hoenderburgers met Meksikaanse salsa

Foto: Nina se kombuis

Foto: Nina se kombuis

Kinders is mal oor hierdie burgers. Ek dink die effense skop-onder-die-stert-warmte van die rissies laat hulle voel asof hulle ook nou deel is van die ‘grootmenswêreld’.

Lewer 4 porsies

Bestanddele: 

  • 500 g hoendermaalvleis
  • 1 klein rooi-ui, geskil en fyngekap
  • 1 klein brandrissie, ontpit (opsioneel), fyngekap
  • 125 ml fyngekapte vars koljander
  • 300 ml vars broodkrummels
  • 5 ml fyn komyn
  • 5 ml sout
  • grofgemaalde swartpeper na smaak
  • gerasperde skil en sap van 1 lemmetjie

Vir die Meksikaanse salsa

  • 4 klein tamaties, in kwarte gesny en pitte verwyder
  • 1 klein rooi-ui, geskil en in kwarte gesny
  • 1/4 van elke kleur soetrissie – geel, groen en rooi, ontpit en fyngekap
  • 1 klein rooi brandrissie, ontpit (opsioneel), fyngekap
  • 30 ml fyngekapte vars koljander
  • 15 ml rooiwynasyn
  • 10 ml suiker
  • sout en peper na smaak
  • 125 ml ingemaakte of vars mieliepitte

Metode:

  1. Plaas al die bestanddele in ‘n mengbak en meng goed. Maak jou hande effens nat en vorm dan vier burgers.
  2. Braai die burgers oor die oop vuur of in ‘n riffelpan op die stoof.
  3. Braai die burgers aan albei kante bruin en sit voor op ‘n sagte broodrolletjie met die salsa, skywe advokado en ‘n tikkie suurroom.

Vir die Meksikaanse salsa

  1. Plaas al die bestanddele vir die salsa, behalwe die mielies, in ‘n voedselverwerker en kap fyn, maar wees versigtig om die salsa nie te fyn te maak nie. Voeg die mielies by en sit voor saam met die burgers.

Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.