Soorte resepte:

Rooibostee maak naam in Japan

Argieffoto (Foto: sayuriiii, Pixabay)

Die bekendste Suid-Afrikaanse tee, rooibos, word deesdae al meer uitgevoer na die wêreld se grootste tee-liefhebber-land, Japan.

Meer as 2 000 ton rooibostee is in 2018 na Japan uitgevoer; die grootste besending vandat rooibos vir die eerste keer in die 1980’s aan die Japannese bekendgestel is.

Martin Bergh, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, sê dit was nie maklik om in Japan se mark in te breek nie, maar dat rooibos nou al meer bekend raak in dié land.

“Die Japannese is bederf deur hul toegang tot verskeidenheid. Hulle het meer as 26 verkillende tipes tee om van te kies. Dit wissel van tradisionele groentee tot jasmyn en gorttee, so rooibos het sterk kompetisie,” sê Bergh.

“Oor die jare het rooibos ʼn nis vir homself uitgekrap as ʼn verfrissende gesondheidstee, wat goed deur die hiper-gesondheidsbewuste Japanse mark ontvang is. Vandag is rooibos een van die bekendste teesoorte in Japan se ‘gesondheidstee’-afdeling.”

Bergh sê die Weste neem al jare lank kennis van die gevare van te veel kafeïen, maar dat Japan eers onlangs daaraan begin aandag gee het, en dat dít moontlik bygedra het tot die groei in die vraag na rooibostee in dié land.

“Dit het gehelp met rooibos se bekendheid, omdat dit laag is in tannien en heeltemal kafeïenvry is. Die algemene gier na meer gesondheidsprodukte het ʼn groot invloed op rooibos se groeiende bekendheid in die Ooste. Ons verwag dat die vraag na die produk nog meer sal groei,” sê hy.Uitvoere na Japan het meer as drie keer verdubbel in die laaste vyf jaar namate rooibos in meer supermarkte beskikbaar geraak het.

Gewilde restaurante dra ook daartoe by om rooibos te bemark in Japan. In plaas daarvan dat hulle water saam met geregte bedien, het hulle nou na rooibostee oorgeslaan, omdat dit sommige geregte beter kompleteer.

Bergh wys daarop dat Japannese van skoon produkte hou en verkies daarom om rooibostee ongegeurd en sonder enige melk of suiker te drink.

“Rooibos word meestal geweek in warm of koue water in ʼn groot pot, eerder as in enkele koppies. Dié teesakkies is daarom ook groter en weeg 3 g of meer elk.”

“In die verlede is rooibos meer in die somer gedrink vir hidrasie, maar nou raak dit ʼn tee wat die hele jaar lank gedrink word deur ʼn verskeidenheid van generasies se verbruikers, van kinders tot bejaardes,” sê hy.

Volgens Bergh drink jong Japanse kinders dit as ʼn vinnige of gevriesde drankie, middeljarige vroue gebruik dit vir die skoonheids -en teenverouderingvoordele, en die bejaardes drink dit as hulpmiddel vir ʼn goeie nagrus.

Die rooibosgeur is ook besig om meer bekend te word in ander produkte in die land soos kos, nagereg, alkohol en skoonheidsprodukte.

Al maak rooibos net ʼn klein deel uit van die 200 000 ton tee wat jaarliks in Japan verbruik word, vaar dit goed bó die jaarlikse groei (2,3%) van die teebedryf met 7% groei in die laaste jaar. En met ʼn teemark so groot soos Japan s’n, van 126 miljoen mense, is die geleentheid vir rooibos eindeloos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marco polo ·

Ek koop rooibostee uit SA sommer aanlyn in China. So ook Amarula, en SA wyn kry mens op die winkelrakke. Dis net drie keer die prys wat dit in SA kos, maar nou ja.

Amanda ·

Vir die wat in die Kaap bly…..Daar is NOU Saterdag n Japan dag in Stellenbosch by die Oude Libertas gebou. Hulle demonstreer n tee seremonie, kos, drankies, skryfkuns, films, musiek, danse, vegkuns en vele meer. Die tee seremonie is vir my die mooiste.
Dis n groot moet vir die wat in die Kaap bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.