Soorte resepte:

SA kruidenierswinkels trek ʼn groener baadjie aan

Die Livewell reeks. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se kruidenierswinkels is besig om ʼn nuwe, groen baadjie aan te trek om meer omgewingsvriendelik te wees en ook gesonder leefstyle onder verbruikers aan te moedig.

Van die tendense wat verbruikers in die volgende jaar by dié soorte winkels kan verwag, is kos wat meer vegetaries en plantgebaseerd is, sakke wat meer duursaam is en sodoende plastiek in die omgewing wil inkort, asook inisiatiewe wat van stapel gestuur word om bewusmaking rakende omgewingsake te verskerp.

Volgens die Indigo-welstandindeks, is Suid-Afrika as die ongesondste land ter wêreld aangewys, deels omdat gesonde kos dikwels as te duur of ingewikkeld beskou word.

Die indeks is saamgestel en gelei deur Richard Davies by Bloomsbury Economics en in die Global Perspectives-joernaal opgeneem. Die indeks gebruik tien maatreëls waarteen dit 191 lande in die wêreld meet. Dit wys dan die wêreld se tien gesondste en tien ongesondste lande uit.

Juis daarom het Pick n Pay besluit om gesonder eetgewoontes meer toeganklik aan sy klante te maak, en sowat 330 ekstra items by sy reeds bestaande Livewell-reeks gevoeg. Teen Januarie sal die reeks sowat 500 produkte omvat.

Etikette op dié reeks sal ook aandui of kos ʼn laekoolhidraatinhoud het, of dit gluten- of laktosevry is en of dit vegetaries- of veganis-vriendelik is.

“Deur die reeks te ontwikkel, bied ons gesonder peuselhappies aan en plaas ons ʼn groter fokus op produkte wat op ingewandgesondheid en suikervermindering gerig is,” sê Nicki Russell, Pick n Pay se hoof van innovering en tendense.

Sy sê verbruikers kan ook volgende jaar verwag om meer kossoorte te kry wat met proteïen aangevul word, veral in drinkgoed en versnaperinge, omdat sportgiere toenemend gewild word.

“Innovering is vir ons baie belangrik. Klante se behoeftes verander voortdurend en deur innovering kan ons ʼn opwindende reeks skep waarvoor hulle lief is, maar wat ook hul ontwikkelende behoeftes en voorkeure in ag neem,” sê Russell.

Verder het Pick n Pay ʼn nuwe vennootskap met Kauai aangegaan om gesonder reg-om-te-eet-opsies aan klante te verskaf. Die reeks sluit bevrore smoothies, bevrore etes en peuselhappies in, wat van Januarie volgende jaar beskikbaar gaan wees.

Pieter Geldenhuys, ʼn toekomskenner, meen egter dat Suid-Afrika se tendense steeds tien jaar agter die res van die wêreld is. “Daar is reeds lankal ʼn groot beweging na gesondheidsgebaseerde diëte, maar Suid-Afrika begin nou eers bykom waar ander lande al reeds was,” vertel hy aan Maroela Media.

Hy noem byvoorbeeld dat in lande soos Nieu-Seeland kaseïen 1- en kaseïen 2-melksoorte beskikbaar is. Die kaseïen 2-melk is volgens Geldenhuys baie gesonder as gewone melk en veroorsaak nie inflammasie of laktoseverwante ongemaklikhede nie.

Die jongste tendens, meen hy, is dat mense toetse doen rakende hul DNS en daardie lêers op sentrale databasisse laai. “Die idee is dat daar vir elke verbruiker uiteengesit word presies watter voedsel hy of sy moet eet om die mikrobioom in hul maag te ondersteun, wat dan ook gesonder en langer lewens kan inhou.

“Jou spysverteringstelsel is soos ʼn tweede brein en deur jou mikrobioom te ondersteun, skep jy ʼn nuwe denkpatroon wat jou gesondheid en emosies kan beïnvloed en bevoordeel,” sê Geldenhuys.

‘n Rak vol gesonder kossoorte. (Foto: Verskaf)

Hy glo daar is nou vir kruidenierswarewinkels en kleinsakeondernemings “geweldige geleenthede” om nuwe gesondheidstendense in die land in te bring. “Dis omtrent tyd,” sê hy.

ʼn Groener planeet

Pick n Pay het in September vanjaar nuwe herbruikbare sakke, People n Planet, by sy winkels bekendgestel. Die eerste miljoen sakke in die reeks is teen R4 stuk verkoop word.

Die groen herbruikbare sak is vervaardig uit groen herwinde PET-bottels en bevorder die sirkulêre ekonomie deur die primêre verpakking van die verbruiker (plastiekbottels) in sekondêre verpakking (herbruikbare sakke) te omskep. “Klante wat hul groen plastiekbottels herwin en dan die nuwe groen sak koop, sal help om ʼn produk in gebruik en buite die omgewing te hou,” sê Suzanne Ackerman-Berman, die groep se transformasiebestuurder.

Vroeër vanjaar het die Spar-kettinggroep, tesame met Tetra-Pak, nuwe bio-gebaseerde melkbottelproppies in die Oos-Kaap bekendgestel wat van digte poliëtileen, afkomstig van suikerriet, gemaak is.

Intussen het die Checkers-groep sy nuwe Xtra Savings-kaarte opgestel dat verbruikers in plaas van punte vir hul eie gebruik opgaar, eerder die punte aan Checkers se Swipe for Good-inisiatief kan skenk. Vir elke tien keer dat die Xtra Savings-kaart gebruik word, skenk Checkers R3 aan ʼn welsynsorganisasie van jou keuse.

Een van die begunstigdes is Food & Trees for Africa, wat omgewingsvolhoubaarheid, voedselsekerheid en stedelike vergroening aanpak om hongersnood te stuit. Ander begunstigdes onder die inisiatief sluit die Lunchbox Fund en die Dierebeskermingsvereniging in.

Dít is egter nie ʼn nuwe konsep in Suid-Afrika nie, en word reeds jare lank deur Woolworths en Pick n Pay gebruik om ʼn verskil in die land se gemeenskappe te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arrie ·

Ongesond…kos te duur? Ek sal eerder dink die kwaliteit van kos oor die algemeen is bitter swak in SA. Ons so gewoond om te betaal vir swak produkte. Omgewingsvriendelik is wensdenkery in SA. Die mentaliteit van die grootste deel van bevolking, maak dit haas onmoontlik. Baie besighede het goeie inisiatiewe, terwyl ander hul blatant skuldig maak aan “green washing”.

Onwettig ·

Bydrae tot welsyn behoort ten alle tye jou keuse te wees en nie outomaties ingesluit te word by elke produk wat jy koop nie. Dit is in my opinie nie wettig nie en ek wens iemand wil n hofsaak aanhandig maak hieroor. Dit is nie die winkel wat die bydrae maak nie maar reeds ingesluit by die pryse wat ons betaal en dit is nonsens.

wilma ·

Ek kan net noem dat Checkers ook ‘n stewige, groot herwonne plastieksak beskikbaar het teen R3. Elke keer wanneer jy die sak hergebruik, kry jy 50c/sak terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.