Soorte resepte:

SA se voorste kroegman vat wêreld se bestes aan

Owen O’Reilly

Suid-Afrika se voorste kroegman, Owen O’Reilly, vertrek volgende week na Glasgow in Skotland om aan die eindstryd van die World Class Bartender-kompetisie deel te neem.

O’Reilly hoop om die beoordelaars met sy rooibos-kelkie te beïndruk. Deelnemers moes met hul eie kommersiële skemerkelkie-konsep vorendag kom.

Volgens O’Reilly was ʼn geblikte rooibostee-mengsel, wat hy Vuka gedoop het, die ooglopende keuse.

“Rooibos is inheems aan Suid-Afrika en spreek tot die ryk erfenis van die land,” het O’Reilly Vrydag gesê.

“Dit word ook ʼn gewilde gunsteling in kroeë reg oor die wêreld, aangesien kroegmanne van komplekse mengsels wegbeweeg deur organiese en natuurlike bestanddele, soos fynbos, in te sluit. Rooibos se natuurlike soet smaak verleen dit tot verskillende aftreksels en is ʼn opwindende medium om mee te werk.”

Indien O’Reilly wen wil hy graag help om die Wupperthal-gemeenskap, ʼn vooraanstaande rooibos-bestemming, te ondersteun met ʼn gedeelte van die opbrengs uit die verkoop van sy voorgestelde rooibos-mengsel.

Meer as 60 lande neem deel aan die kompetisie van 25 tot 29 September.

O’Reilly is in Julie vanjaar as Suid-Afrika se beste kroegman aangewys nadat hy stof in die oë van sewe ander plaaslike kroegmanne geskop het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.